News

Bloed spuit uit kopwonde toe hoor slagoffer hoe word wapen gespan

Met bloed wat uit sy kopwonde spuit, het ’n man gehoor hoe sy aanvallers ’n wapen span...hy het net aangehou hardloop.

“Hulle het vir hom gesê hy moet hardloop, hulle gaan hom skiet,” het me. Valarie Benadie pas vir www.mobserver.co.za van haar seun, Jan (26), se ontvoering vertel.

Jan is gisteraand skemerdonker, omstreeks 18:30 in Njalastraat, Dennesig (Middelburg, Mpumalanga) ontvoer en aangerand en later in die Mhluzi woongebied deur sy aanvallers vrygelaat.

“Hy kon vandag iewers in ’n sloot gelê het. Waar sou ek my kind gaan soek het? Die trane loop net die hele tyd, ek weet nie of dit van dankbaarheid is dat hy leef en of ek nog skok het nie,” het ’n duidelik emosionele me. Benadie gesê.

Jan het vroeër die dag vir sy vriend, wat net twee huise van hulle af bly, laat weet dat hy by hom gaan aandoen na werk.

Hy het vinnig oorgestap na sy vriend en het voor die hek gewag om hom te bel, om die hek oop te maak. Die volgende oomblik is hy van agter af gegryp en in ’n kar ingedwing.

“Van daar af onthou ek nie veel nie, want ek is oor die kop geslaan.”

Die kort rukkies wat hy wel sy bewussyn herwin het, het hy net geweet daar is ten minste twee mans in die voertuig.

Jan het ernstige kopwonde opgedoen.

Langs die pad, “iewers in Chromeville” het hy in die donker wakker geword.

Hy is oor sy vingers geslaan, want hy het nog sy selfoon in sy hand vasgeklem.

Hulle het die foon en sy hardeskyf by hom afgevat en hy het gehoor hoe ’n wapen gespan word.

“Run, before we are going to shoot you!” het die ontvoerders vir hom geskree… hy het opgespring en begin hardloop.

Nadat hy ’n ent gehardloop het, het hy twee vroue opgemerk by woonstelle. Hulle het later vir hom gesê dit is die Chromeville Woonstelle.

Jan het vir hulle vinnig vertel wat gebeur het, waarop hulle die bloed op en teen sy kop probeer stop het. Daarna het hulle hom na die Mhluzi Polisiestasie toe gevat.

“Ek het rustig gelê en slaap met die gedagte dat Jan by sy vriend is. Dit was verskriklik toe die polisie omstreeks 22:00 hier opdaag en Jan huistoe bring. Die polisie was regtig baie behulpsaam. Hulle het ons so mooi bygestaan.”

Me. Benadie het Jan na die Life Midmed Hospitaal gehaas, waar drie gate op sy kop met steke geheg is. Daar is ook merke op sy hande waar hulle hom geslaan het en kneusplekke op sy gesig en nek.

“Ek sal nooit weer toelaat dat hy in Dennesig eers weer kafee toe loop nie. My kind kon dood gewees het. Hy was net gisteraand op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. En dit is tog ’n besige straat. Dit is nie meer veilig hier nie! Ons moet die mense waarsku om versigtig te wees.”

Sy het gesê dat mense in die omgewing vir haar gesê het dat hulle die afgelope tyd twee verdagte voertuie, ’n silwer BMW en ’n swart kar, heen en weer in die straat sien ry het.

•Me. Benadie het gemeld dat hulle sowat drie weke gelede omstreeks 03:00 wakker geword het met hul hond se geblaf.

“Die volgende oggend het ons bakstene voor ons erf gekry, wat hulle só gepak het net om oor te klim. Die hond moes hulle gekeer het.”

Back to top button