Dorp van die Jaar nou ’n reuse vullishoop
Hoe lank gaan dit vat om al die gemors wat in Middelburg lê op te ruim? ’n Week? ’n Maand? Dalk langer...
Middelburg en Mhluzi is toegegooi met rommel, nadat munisipale werkers die dorp vir byna twee maande lank gyselaar hou.
Terwyl onderhandelinge keer op keer misluk, en stakende werkers onder koeltebome op kampstoele hul salaris verdien, hoop die rommel op.
Daar het ’n onwettige stortingsterrein in die veld langs Nelson Mandela Rylaan ontstaan, oppad na die rommeloordragstasie net ’n ent verder. ’n Groep mense kon Dinsdag gesien word waar hulle besig was om ’n struktuur daar op te rig. Of dit ’n informele ‘herwinningskantoor’ of iemand se huis gaan word, is onbekend.

Die eens netjiese rommeloordragstasie langs Harry Gwalastraat in Dennesig is nou een groot oogseer.
Met die Middelburg Observer se besoek aan die terrein kon daar gesien word hoe voertuie sommer enige plek stop en sakke dan deur sakgrawers afgepluk word om vir enige iets van waarde deur te gaan voordat dit net daar gelaat word.
Daar was selfs ’n ou rusbank wat iemand langs die pad afgegooi het.
Rommel lê langs die pad vandat jy van die teerpad afgedraai het tot by die afgeskorte stortingsterrein. Daar lê vullis opgehoop byna so hoog soos die mure wat die area omhein.

DA raadslid Johan Dyason het voor die staking hard gewerk om onwettige rommelstorting te voorkom en die grondpad tot by die terrein was so te sê skoon van rommel.
Mnr. Dyason het Woensdagoggend laat weet dat die rommeloordragstasie gesluit word, omdat die oorvol perseel se rommel deur die wind rondgewaai word en tans ’n gesondheidsrisiko inhou.
Hy het gesê dat hulle die munisipaliteit se Soliede Afval departement versoek het om ’n alternatiewe perseel beskikbaar te stel vir mense om hul rommel te gaan weggooi. Dit was egter nie voor druktyd bekend waar die perseel gaan wees nie.

Die amptelike stortingsterrein in Mhluzi is oop, maar baie mense is skrikkerig om soontoe te ry.
•Middelburg is in 2015 aangewys as Kwêla se Dorp van die Jaar. 
