News

Vandalisme, sabotasie voor stakers se voete gelê

Vandale lê die dorp lam. Sedert ’n onwettige staking deur munisipale werkers wat nou al byna twee maande voortsleep, het vandale op verskeie plekke toegeslaan.

Buiten vir rommel wat oral ophoop, was inwoners vir dae aaneen sonder water en krag.

Dit word alles voor die voete van stakers gelê wat die munisipaliteit probeer dwing om voor hul eise te swig.

Ten spyte daarvan dat die munisipaliteit ’n hofinterdik bekom het en die staking onwettig verklaar is, word daar steeds gepoog om met stakers te onderhandel, om sodoende verdere vandalisme en skade te voorkom. Tot op hede het dit egter geen positiewe uitwerking gehad nie.

’n Groep vrywilligers het begin om sleutelpunte te patrolleer in ’n poging om kwaaddoeners te stuit. Dit sluit substasies en waterreservoirs in.

Kabels wat afgesny is in die middedorp.

Munisipale werkers wat staak, het kennis van Middelburg se krag en watersisteme. Hulle gebruik die kennis nou na bewering om die dorp te saboteer.

• Sowat drie weke gelede het die hele middedorp sonder krag gesit. Dit het oggendverkeer tot ’n slakkepas gedwing en besigheid ’n ekonomiese knou toegedien.

• Daar is op verskeie plekke, soos by die Protea- en Walter Sisulustraat verkeerslig, rommel in die middel van die pad gegooi wat verkeervloei bemoeilik het.

• ’n Waterklep is twee weke gelede in Aerorand verwoes. Kontrakteurs moes die hoofwatertoevoerlyn toemaak om dit te vervang wat watertekorte in die dorp vererger het. Dit het veroorsaak dat inwoners wie se krane toe reeds sporadies opgedroog het, vir dae sonder water sit.

Werkers, wie se gesigte nie gewys mag word nie om hulle van intimidasie te beskerm, by die beskadigde waterklep in Aerorand wat die dorp vir dae sonder water gelaat het.

• Daar is verskeie voorvalle aangemeld waar mini-substasies in woongebiede, se deure oopgebreek en die krag afgeskakel of kabels uitgepluk is.

• Foto’s op sosiale media wys hoe daar gepoog word om kragkabels by pale af te sny.

• In Mhluzi is daar verkeersligte en naamborde afgebreek en hope rommel neergesmyt.

• Soos wat kontrakteurs kabels in die dorp vervang, word dit oornag weer afgesny het DA raadslid San-Mari Wait aan www.mobserver.co.za gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button