News

Vrou deur gesig geklap by vulstasie

’n Vrou is deur die gesig geklap, nadat ’n man in haar kar vasgery het.

“Ek het my hande in die lug gegooi om te vra: ‘wat doen jy nou?’, toe klim hy uit, ruk my deur oop en slaan my deur die gesig!” het me. Marilyn de Lange (65) gesê.

Sy is Dinsdag omstreeks 14:45 na die Caltex Vulstasie in Eastdene (Cowen Ntulistraat) om brandstof in te gooi.

Me. De Lange het net gestop, toe sy opmerk dat ’n ander voertuig rukkend ingery kom.

“Ek het nog gedink dat as hy nou in trurat ry, gaan hy die vrou en kind, wat ’n kar gestoot het, raakry.”

Die volgende oomblik het hy egter vorentoe gery en me. De Lange se kar gekrap. Sy het haar boeglam geskrik en haar hande in die lug gegooi.

“Moes ek net stilsit en gelate aanvaar dat my kar net gestamp word?”

Wat volgende gebeur het, kan sy steeds nie glo nie. Die aggressiewe man het op haar begin skree, terwyl hy na haar voertuig gestap het.

“Hy het vir my geskree: ‘I will f..n kill you!’, die deur oopgepluk en my met die plathand deur die gesig geslaan.”

Lam van skok het sy vinnig haar deur toegemaak en deur die skrefie van die oop venster geluister hoe hy haar aanhou skel.

Me. De Lange sê sy het vir hom beduie hy moet geepad, “maar hy het weer die deur oopgepluk om my aan te rand. Dié keer het ek sy arm in die deur vasgeknyp en aanmekaar vir hulp gegil.”

Die petroljoggies het aangehardloop gekom en die man by haar deur weggeruk. Die polisie is gekontak en Mid Alarms het ook opgedaag.

Nog ’n skok het egter op me. De Lange gewag. “Ek loop baie swaar, maar die polisieman het vir my geskree: ‘Come here! What is going on here!”

Sy het vir hom verduidelik wat aangaan, maar sê dat hy nie vreeslik behulpsaam was nie.

“Op die manier wat hy gepraat het, het hy my eintlik afgeraai om ’n saak te maak. Hy het gesê dat dit net ’n gewone aanrandingsaak is en dat dit baie lank gaan vat, want die departement van openbare vervolging moet nog eers besluit of hulle aangaan met die saak.”

Me. De Lange het wel gesien dat die polisie die man oplaai, maar kort daarna het hulle hom weer kom aflaai by die vulstasie.

Die verdagte se broer het haar gekontak en gepleit om nie ’n saak te open nie.

“Hy het vir my gesê dat hulle gebraai het en dat hulle vir hom gesê het om nie te ry nie. Hy het aangebied om vir my skade op my kar te betaal.”

•Daar is vir die joernalis gesê dat die man sowat twee ure na die voorval by die vulstasie se geriefswinkel opgedaag het en dat hy baie aggressief gevra het waar sy selfoon is.

•By navraag aan die polisie, is gesê dat me. De Lange steeds ’n klagte by die polisiestasie kan open. As sy nie gelukkig is oor die manier wat die polisie haar hanteer het nie, kan sy ook klagtes teen hulle lê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button