News

Witkopseuntjie is weg by bedel-ouers

Die sesjarige seuntjie wat in die bloedige son moes staan terwyl sy ouers bedel, is veilig by sy ouma!

Francois (Cois) en Cecilia Theunissen (beide 38) het Middelburgers omgekrap, omdat hulle met hul blondekop seuntjie by verkeersligte gestaan en bedel het.

In die meeste gevalle het Cecilia (ook Dora genoem) gestaan en bedel, terwyl Cois in die omgewing gestaan het met hul wit Uno. As die seuntjie by hom in die kar was, het hy met die kind op sy skoot vir geld en kos gebedel wanneer mense verbystap.

Lees ook: Seuntjie vryf oor magie terwyl pa bedel

Ander kere was die kind op Cecilia se heup of het by haar gestaan.

Nadat www.mobserver.co.za oor hulle berig het, het die paartjie se familie (wat anoniem wil bly) die joernalis genader en gesê dat hulle dwelmverslaafdes is.

Cois Theunissen was altyd naby by hul wit Uno met hul blondekopseuntije by hom. Die familie het die paartjie in Boksburg opgespoor en het hulle die seuntjie vrywillig aan die familie teruggegee.

Daar is gesê dat die seuntjie grootgeword het by sy ouma, maar dat sy ouers hom kom haal het “om die middag met hom te spandeer,” en hom nooit teruggebring het nie.

Die joernalis het ook ’n onderhoud met Cecilia gevoer, maar op dieselfde dag het hulle verdwyn. Hulle het vir mense gesê hulle is op pad na Boksburg toe, terwyl hulle vir geld gebedel het.

Lees ook: Familie sê: ‘paartjie wat met kind bedel, is dwelmverslaafdes’

Die familie het hierdie week laat weet dat hulle die kind Sondag gevind het, waar hy en sy ouers in ’n park in Boksburg was. Die paartjie het vrywillig hul kind vir die familielid gegee.

Hulle sê dat hy reeds weer terug is in die kleuterskool en Januarie skool toe sal gaan.

•Die paartjie is Maandag weer in Harry Gwala (Dennesig) opgemerk. Die man was by die Uno en die vrou het ’n ent verder gestaan en bedel.

Lees ook: Dorp sien rooi oor egpaar wat kind glo misbruik

Back to top button