News

‘Skepper se Hand’ hou man veilig in gru-ongeluk

Schalk Lötter glo dit is “net die Skepper se Hand” wat hom veilig gehou het in ’n ernstige ongeluk op die N12.

“Eerste is dit die Here se genade en tweede die vervaardigers van die daardie kar wat my lewe gered het.”

Hy was Dinsdag vanaf Middelburg na die OR Tambo Lughawe onderweg, om sy skoonpa, Louis Brits te gaan haal. Hy het met sy Mercedes C-klas voertuig gery.

“Ek was nie haastig nie, want ek was meer as ’n uur en ’n half te vroeg.”

Naby die Delmas-afrit het hy ’n eenton bakkie op die skouer van die pad sien staan. Die oomblik toe hy omtrent by die bakkie is, het die bakkie skielik van stilstaan af reg voor hom ingedraai. “Daar was ’n spoedkamera net so 20 treë voor hom en ek dink hy het in die pad inbeweeg om die kamera te mis.”

Mnr. Lötter kon in daardie breukdeel van ’n sekonde nie uitswaai nie en het die bakkie getref.

As hy terugdink aan die oomblikke na die ongeluk, kan hy nie glo dat hy eintlik ongedeerd daarvan afgekom het nie.

“Die hele neus van die Mercedes was weg, maar ek het net die poeier van die lugsakke van my afgeskud.”

Agterop die bakkie was steenkool en mnr. Lötter was vol steenkoolstof. “Buiten vir die blou merkie waar die veiligheidsgordel my vasgetrek het, effense lyfseer en my lippe wat net ietwat nerf-af is van die lugsakke, het ek eintlik niks oorgekom nie.”

Aldrie die insittendes van die bakkie is hospitaal toe geneem.

Mnr. Lötter se vrou, Zillika, het van Middelburg af gery om haar man te gaan oplaai.

“Ek het nog genoeg tyd gehad om te gaan stort by my ma, Helene, om die poeierstof van die lugsakke en die steenkoolstof te was en sowaar nog betyds te wees om my skoonpa by die lughawe te kry.” •Nadat die egpaar foto’s op Facebook geplaas het van die ongeluk, het talle mense, waaronder ook onderwysers en vriende hulle gebel.

“Hulle kon nie glo dat ek nie seergekry het toe hulle die kar sien nie. Ek glo ek het nog ’n Hoër Pos in hierdie lewe.”

Back to top button