News

Vuishou by skool word ondersoek

’n Dissiplinêre komitee by HTS Middelburg is besig om ’n onderonsie tussen twee seuns, waar een die ander met die vuis geslaan het, te ondersoek. Daar is videomateriaal van die gebeure.

Die voorsitter van die beheerliggaam, mnr. Gerhard Holtzhausen, het gesê hy kan nie kommentaar lewer nie, aangesien hy nie van die voorval weet nie. Hy is tans met vakansie in die Kaap.

Hy het egter gemeld dat hy volle vertroue het in die dissiplinêre komitee en die besluite wat hulle neem.

“Hulle is uiters professioneel en as daar byvoorbeeld straf moet volg, sal dit so gedoen word dat die kind steeds sy plek sinvol in die samelewing sal kan volstaan.”

Die skool se manspersoneel is tans by ’n strategiese beplanningsvergadering by Marloth Park en kon die hoof nie opgespoor word vir kommentaar nie. By navraag aan die skool is slegs gesê dat hulle nie namens mnr. Hoppie van Jaarsveld kan kommentaar lewer nie.

Hy weet wel van die voorval. Daar is egter wel bevestig dat dit ondersoek word en hulle reeds met die ouers en die twee seuns gepraat het.

“Ons weerhou ons van enige uitsprake, want niks wat ons sê is die volle waarheid op hierdie stadium nie. Daar is ander kinders ook op die video en daar moet met hulle ook gepraat word. Die video het maar pas eers aan die lig gekom. Die dissiplinêre verhoor is volgende week.”

Www.mobserver.co.za het ook die videomateriaal onder oë gehad en het die ma van die seun wat geslaan is, opgespoor.

Haar naam word weerhou om haar minderjarige seun te beskerm.

Sy sê sy was geskok toe sy Dinsdagaand die video van ’n ander persoon af kry. Sy het dadelik die skool daarvan in kennis gestel.

“Dit het al twee weke gelede gebeur, maar my kind het niks daarvan gesê nie. Ek onthou wel dat hy eendag gesê het sy kakebeen is effens seer.”

Sy meld dat haar kind 15 jaar oud is en gesê het dat hy juis stilgebly het om verdere konflik met die betrokke seun te vermy.

”Ek het hom uitgevra oor die gebeure en het dit nou uitgekom dat hy daarna weer gedreig is. Hy het vir my gesê dat die betrokke seun hom ’n paar dae later in krutaal gedreig het dat hy hom gaan doodslaan en ook sy vinger oor sy keel getrek.” Die ma sê die ander seun het hom beskuldig dat hy vir matrieks van die vuishou vertel het en dat ’n matriekseun kwansuis vir hom gesê het dat hy moet ophou om die ander te boelie.

“Hierdie gebeure het ’n verskriklike invloed op my kind. Ek laai vroeg in die oggende my seun by die skool af. Dit moet sy veilige hawe wees. Hoe kan ek en hy verseker weet dat hy gaan veilig wees?”

•Die seun het vir sy ma vertel dat hy en ’n vriend van hom grappies gemaak het in die klas oor iets heel anders. Volgens hom het die aggressor hom later beskuldig dat hy iets van sy ma gesê het.

Hy het dit probeer ontken, maar is met die vuis op die ken geslaan.

Daar kan duidelik op die video gesien word hoe verskeie kinders, waaronder ook dogters, in die omgewing staan en van hulle videos van die gebeure neem.

•Die voorval het plaasgevind by een van die deurlope van die pawiljoene.

•Die ma het aangedui dat sy ’n aanrandingsklagte by die polisie geopen het.

Back to top button