VIDEO: Is man wat van brug val deel van roofbende?
Is die man wat hom te pletter geval het deel van die N4 roofbende of een van die rowers wat motoriste teister deur hulle kardeure oop te pluk?

Inligting wat www.mobserver.co.za bekom het is dat ’n man ’n kardeur oopgepluk, probeer skuil het agter ’n pilaar en toe van ’n brug afgeval het, voor voertuie in.
Al wat egter op die video gesien kan word, is die man wat half sit teen die pilaar en dan wanneer ’n ander persoon oor die brug loer, val en voor karwiele beland.
Dié video word sedert Vrydagaand oral op WhatsAppgroepe en Facebook versprei.
Daar is aanvanklik gesê dat hy selfmoord gepleeg het.
Deur die loop van die naweek het nuwe inligting aan die lig gekom.
Volgens bronne het die man kort voor 12:00 ’n kardeur oopgepluk van ’n voertuig wat in die verkeer gestaan het. ’n Ooggetuie, wat in een van die ander voertuie was, het aangehardloop gekom met ’n wapen om die slagoffer te help.
Inligting is dat die straatrower oor ’n brug geklim en agter ’n pilaar geskuil het.
’n Mens sien op die video hoe hy met sy een hand beduie en dan sy balans verloor en aan sy arms hang.
Kort daarna stort hy na benede en hoor jy die slag wanneer ’n voertuig hom tref en die persoon wat die video neem se gille.
Die videomateriaal wys hoe ’n padwerker onder die brug oor die pad probeer loop om te gaan help, maar die verkeer op die N4 is te besig. Daar is ook mense links op die brug wat op die man geskree het.
•Daar is navraag gedoen by Track se woordvoerder, Solange Soares. Sy het gesê sy is bewus van die voorval, maar dat die joernalis navrae oor die spesifieke saak moet doen by die polisie, omdat sy net navrae oor kwessies oor die pad self kan hanteer.
•Faith Shabangu (’n werknemer van Columbus Stailness) is op 20 Maart vanjaar op die N4 doodgery toe sy vir motorkapers probeer weghardloop het. Sy het oor staalpenne oor die pad gery en moes stop. In ’n poging om weg te kom van haar aanvallers af, het sy voor aankomende verkeer beland.
