Pasiënte op ongelukstoneel gelos
Daar heers groot ongelukkigheid na ’n ongeluk Saterdagnag waar twee pasiënte in die reën agtergelaat is om alleen vir ambulanse te wag, nadat twee ander pasiënte met ’n ambulans weggevoer is.
Twee minder ernstig beseerde pasiënte, met mediese fondse, is hospitaal toe vervoer, terwyl twee ander beseerde pasiënte aan hulle eie lot oorgelaat is.
Gunmar se ambulans was eerste op die toneel. Hulle het die bewerings ten sterkste ontken en kon met bewyse hulle onskuld staaf.
Daar is met die eienaar, Jan Botha, sowel as die ambulanspersoneel wat op die toneel was gepraat. Hulle kon stemboodskappe speel om te bewys hoe hulle na die toneel ontbied is en hoe dit gekom het dat hulle met twee pasiënte daar weg is.
Met die eerste oproep het die ambulanspersoneel aan diens eers gesê dat hulle nie na die toneel kon gaan nie, omdat hul intermediêre lewensondersteuningspersoneel nie daar was nie en hulle net twee basiese ambulans assistente aan diens gehad het.
Hulle is ingelig dat daar ’n persoon met die nodige kwalifikasies op die toneel is, drie minder ernstig en een ernstig beseerde pasiënt.
Hulle het aandag aan die ernstig beseerde persoon geskenk, ’n vrou wat nie by haar volle bewussyn was nie wat in die veld, verstrengel met doringdraad, gelê het.
Die ambulanspersoneel en nog ’n onafhanklike ooggetuie se weergawes stem ooreen: dat hulle instruksie gegee is deur Vic Boshoff, die mees gekwalifiseerde noodhulp persoon op die toneel, om die pasiënte te laai en hospitaal toe te vervoer.
Dit is hier waar weergawes begin verskil. Twee ander ambulanse, Mpumacare en ER24 het die oorblywende twee pasiënte hospitaal toe vervoer.
Beide was kritiek en een moes per helikopter na ’n Gautengse hospitaal gevlieg word. Beide is tans in intensiewesorgeenhede opgeneem.
Daar word beweer dat die twee laaste ambulanse met hul aankoms, geen noodhulp persoon op die toneel gekry het nie. (Daar word vereis van ’n noodhulp persoon om op die toneel te bly tot die laaste beseerde persoon weg is of tot hulle die toneel aan iemand anders kan oorgee).
Mnr. Boshoff sê dat hy nie sommer uit die bloute besluit het om te ry en beseerde mense agter te laat nie. Hy beweer dat daar ’n insleepvoertuig met een lig sowel as verskeie taxi’s ‘vol dronk mans’ op die toneel gestop en hom gedreig het.
“Hulle wou weet hoekom die ambulanse so lank vat en hoekom ek vir die beseerdes vra of hulle ’n mediese fonds het. Ek het verduidelik dat dit is om te weet na watter hospitaal toe om hulle te stuur. Toe raak die bestuurder van die breakdown aggressief.
“Hy het sy hemp opgelig en vir my sy vuurwapen gewys en gesê dat ons liewer moet ry of dit is ons laaste aand.
In ’n Facebook inskrywing sê hy “Nog nooit het ek ’n pasiënt op ’n toneel agtergelaat nie, maar tussen die klomp gedrinkte hordes was daar meer as een vuurwapen by hulle…”
Mnr. Boshoff sê dat hy gehoor het dat daar mense is wat dreig dat hulle hom gaan verkla, maar dat hy weer so sou optree as hy in dieselfde situasie was, omdat sy en sy gesin se veiligheid in gedrang was.
• ’n Ander ooggetuie op die toneel was uit die veld geslaan toe hy gevra is oor die teenwoordigheid van taxis en dronk mense en die vuurwapens. Hy beweer dat hy glad nie so iets gesien het nie en hom self uit die voete sou maak as dit die situasie was.
