R200 000 se huisware én skooltas gesteel tydens inbraak
Inbrekers het Saterdag teen ligdag by ’n huis in Joubertstraat (Middedorp) ingebreek en meer as R200 000 se huisware, waaronder ook ’n skooltas met boeke, gesteel.
Mnr. Nico Hough glo as dit nie vir die persoon wat in die woonstel agter in hul erf bly nie, sou sy hele huis leeg gedra gewees het.
“Hy het gehoor toe hulle in die motorhuis besig is en het uitgegaan. Hy het ’n byl na hulle gegooi, maar hulle het op ’n rooi Chev bakkie gespring en weggejaag.”
Die voertuig het te vinnig weggetrek en hy kon nie ’n registrasienommer sien nie.
Mnr. Hough sê hulle was weg vir die naweek en hy is kort na 05:00 Saterdag laat weet dat daar by hulle ingebreek is. ’n Groot skok het op hulle gewag, toe hulle by die huis kom en sien dat duisende rande se artikels gesteel is.
Die booswigte het toegang tot die huis verkry deur oor die muur te spring en ’n skuifdeur oop te forseer.
In die hoofslaapkamer het die diewe sy vrou se juwele uit die spieëlkas gehaal, elke juweelkassie oopgemaak en die beste juwele uitgesoek. Alhoewel die gesin se kamerasak op die bed gekry is, is die Nikon D5100 kamera met twee lense gesteel.
Daarna is hulle regdeur die huis om waardevolle artikels te vat soos twee skootrekenaars, twee tablette en ses Samsung selfone. Hulle vermoed die boewe het van hul buit in sy graad 10-seun se skooltas gepak, want die tas, met verskeie boeke in, is ook skoonveld.
Wat mnr. Hough dronkslaan, is dat hulle van sy toerusting waarmee hy ammunisie herlaai, gevat het. “Hulle kan niks daarmee doen nie.”
Sy vrou se swart Titan Racing fiets, wat in die huis gestaan is, word ook vermis. Die fiets is R50 000 werd.
Hy vermoed die inbrekers het al die artikels oor die hek aangegee vir hul makkers en teruggekeer na die huis om die groter artikels, waarvan sommige onder die lapa gepak is, te kry.
Hulle het ook die seuns se fietse in die motorhuis probeer buit.
Dit is juis toe hulle in die motorhuis begin rondkrap, dat die persoon wat in die woonstel bly, iets gehoor het. Hy het uitgehardloop, ’n byl beetgekry en na een van die drie geslinger.
Op daardie tydstip het een by die huis uitgehardloop. Die ander een was besig om van die artikels na die lapa te dra en die derde een het probeer om die palissadehek se hekmotor buite aksie te stel.
“Die dief by die hekmotor wou natuurlik oopmaak vir die bakkie, wat daar naby gestaan het, om in te ry om die groot goed, soos die televisie, te laai.”
Hulle het die entjie tot by die bakkie gevlug en weggejaag.
•Mnr. Hough noem dat hulle huishulp met haar aankoms hierdie week gesê het dat sy reeds van die inbraak gehoor het.
“’n Persoon wat in Doornkop bly, het haar vertel dat hulle gehoor het daar is by ons ingebreek. Dit beteken die inbrekers kom waarskynlik van daardie kant af en die bakkie moontlik daar rondry!”
•Mnr. Hough sê hulle het vroeg hierdie week ’n SMS boodskap van die polisie gekry, waarin daar vir hulle gesê is dat die saak afgesluit word. Sou hulle (mnr. Hough hulle) enige nuwe leidrade het, kan hulle dit vir die polisie gee en sal die saak heropen word.
“Dit beteken ek moet my eie speurwerk gaan doen.”
