News

Advokaat Gerrie Nel vat Amé se saak

Afriforum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van advokaat Gerrie Nel, gaan nou ook die saak rakende die ongeluk waarin die vyfjarige Amé Janse van Rensburg gesterf het, hersien.

Amé het op 26 September in ’n ongeluk op die R55 (ou Middelburg/Witbankpad) gesterf en haar ma, Nadia, het ’n ernstige armbesering opgedoen.

Haar pa, Phillip, en boetie, Flippie (bykans drie jaar oud) het nie beserings opgedoen nie.

Afriforum het hierdie week ’n brief, wat saamgestel is deur adv. Nel, gestuur aan die senior aanklaer by die Middelburg Landdroshof waarin hulle aangedui het dat hulle die saak op hersiening neem. Daar is gesê dat hulle die saak pro bono sal hanteer.

In sy brief sê adv. Nel dat hulle genader is deur die ouers om namens hulle op te tree, “omdat hulle voel dat die saak nie die nodige aandag kry wat dit verdien nie.”

Daar word uitgelig dat die ongeluk al op 26 September plaasgevind het, maar dat die polisie eers op 21 Oktober die ma se verklaring geneem het.

“Dit is nie vir hulle duidelik waarom die bestuurder van die voertuig nog nie voor die hof verskyn het op ’n klagte van strafbare manslag nie.”

Adv. Nel sê in die brief dat die polisie vir die ouers sou gesê het dat die verdagte nie aangekla kan word nie, omdat die bloeduitslae en nadoodse ondersoek nog uitstaande is.

“In hierdie saak is die slagoffer gedood nadat hul voertuig deur ’n ander voertuig getref en die bestuurder gevlug het, wat deur ’n ooggetuie agternagesit is ten tyde van die pleging van die misdaad.”

Voorts word gesê dat hy nie insig in die dossier gehad het nie “en dus nie ’n mening kan lug oor die kanse op ’n suksesvolle vervolging van die saak nie. Ons deel egter ons kliënte se ontevredenheid met die afwesigheid van terugvoer van die SAP in sake waar ’n geliefde haar lewe in sulke tragiese omstandighede verloor het.”

•Dié eenheid was direk daarvoor verantwoordelik dat Khumbulani Malinga skuldig bevind is op ’n klagte van strafbare manslag nadat Liezel Visagie op 23 Maart 2019 doodgery is.

Malinga is onlangs skuldig bevind nadat hy tydens ’n vorige verskyning erken het dat hy verantwoordelik was vir haar dood.

Hy het die betrokke dag ’n rooi verkeerslig verontagsaam het en me. Visagie in die kruising van Lilian Ngoyi- en Cowan Ntulistraat getref.

Me. Visagie het as held gesterf, deur haar tienerdogter net betyds uit die pad te stamp, voordat sy getref is.

Sy het haar op die toneel doodgebloei, terwyl omstanders Malinga, wat van die toneel af wou vlug, moes platduik.

Daar het eers ’n wending in die saak gekom nadat Afriforum se privaat vervolgingseenheid betrokke geraak het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button