Bejaarde smag na asem weens staking – die wat wil werk rondgeruk
Pensioenarisse in die Raanim-woonstelkompleks in Bhimy Damanestraat is raadop omdat hulle nou vir meer as 24-uur sonder krag sit.

Die elektrisiteit het Woensdag kort voor 08:00 afgeskop en sedertdien sukkel die bejaardes om oor die weg te kom.
Daar is gesê dat kragkabels naby Binnelandse Sake beskadig is in die voortslepende munisipale staking.
DA wyksraadslid, San-Mari Wait, sê die straat is een van talle strate in die sakekern wat gereeld deur saboteurs geteiken word. “Sodra die kabels deur kontrakteurs gelas word, word hulle weer geknip,” het sy moedeloos gesê.
Mnr. Peet Bierman is egter baie bekommerd oor sy pa, Fred, wat in die kompleks woon. Fred moet gereeld suurstofbehandeling kry, maar met die elektrisiteit wat af is, werk die suurstofmasjien nie.
Peet sê dat omliggende areas, soos MB Sports, vroegoggend gerapporteer het dat die krag daar weer aan is, nadat besighede in die kompleks gister met kragopwekkers moes klaarkom.
Die probleem is reeds aangemeld en die munisipaliteit sê ondersoek word ingestel.
•Kontrakteurs is ook elders besig in Bhimy Damanestraat waar besighede soos La Riekie Spyseniers en Frank’s Meat by die Midpwark-sentrum, al tien dae sonder water sit.
Kontrakteurs soek tans na die fout. Volgens La Riekie het hulle al meer as R6000 vir water opgedok, wat hulle teen ekstra onkoste ook moet aanry om die spysniersbesigheid en bakkery aan die gang te hou.
•Inwoners het vanoggend gesien hoe word munisipale werkers, wat bereid is om te werk, rondgepluk. Twee voertuie, waarin mans reis met rooi T-hemde, het gestop waar werkers besig was om gras te sny en hulle beveel om op te hou werk.
Die werkers is hardhandig rondgeruk. Een van die voertuie was ’n silwer Polo.
