News

Dwelmverslaafdes spuit op straat vir almal om te sien

Daar is in een week met twee geleenthede foto’s en videos van ’n dwelmverslaafde geneem wat homself in die openbaar spuit.

Die verslaafde het homself as Jeandre du Toit geïdentifiseer toe hy gekonfronteer is. Hy is vroeër die week afgeneem waar hy homself voor Middelburg Nissan met dwelms inspuit.

Die persoon wat die foto’s aan www.mobserver.co.za verskaf het sê dat hy min gepla was met die mense wat vir hom gestaan en kyk het terwyl hy dit doen.

Woensdag het daar ’n video van dieselfde man wat homself inspuit, hierdie keer by Van Blerk Plein, op sosiale media gesirkuleer. Die persoon wat die video geneem het sê dat hy al baie vir die man geld gegee het maar dit nie weer sal doen nie.

“Hy het vir my gesê hy is eintlik in ’n rehabilitasiesentrum maar dit is sy naweek af,” het die man wat hom gaan konfronteer het gesê. Die konfrontasie het egter in die middel van die week gebeur.

Persone wat betrokke is by die rehabilitasie van dwelmverslaafdes smeek keer op keer dat die publiek moet ophou om geld aan bedelaars te gee. Wat die skenker dalk goed laat voel is egter die direkte rede waaroor daar al hoe meer en meer bedelaars op straat is.

Nog ’n bedelaar, Nico Smit, is afgeneem waar hy in ’n leë erf naby die Middelburg Mall gespuit het. Toe hy gekonfronteer is het hy ’n mes uitgepluk.

Mnr. Smit, wat gewoonlik glimlaggend en ‘mank’ in Samora Machellstraat bedel, het al smalend aan ’n joernalis gevra hoekom hy moet werk as hy baie meer geld op straat kan verdien.

’n Ander inwoner het vertel dat hy Willie Snyman Holscher, ’n bedelaar op krukke wat gewoonlik by die Beyers Naude en Lilian Ngoyistraat verkeerslig staan, gereeld sien dwelms koop by die stegie tussen Walter Sisulustraat en die Iraq Taxistaanplek.

“Hy probeer nie eens die transaksie wegsteek nie. Sodra hy geld vir die man gee, gee die man vir hom iets wat hy dan in sy mond sit,” het die inwoner vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button