Carolina Spar moordverdagtes vlugtig in hof
Die hofsaak waarin twee voormalige werknemers van Spar in Carolina en ’n sekuriteitswag van moord en ontvoering aangekla word, het vlugtig in die Middelburgse Landdroshof verskyn.
William Viljoen (33), Hannes Terblanche (29) en Obi Nortje (32) staan tereg op aanklagte van moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, sowel as twee klagte van ontvoering.
Die staat beweer dat hulle twee mans, Thulani en Thabiso Sibanyoni, ontvoer en in ’n stoorkamer aangerand het met ’n ysterpyp nadat hulle glo ’n Spar werknemer beledig het.
Thulani is later in die hospitaal opgeneem en het op 1 September 2020 aan sy wonde beswyk.
Die trio se regsverteenwoordigers het in die hof aangedui dat hulle reeds afskrifte van die dossier ontvang het en gereed is vir verhoor.
Die saak is uitgestel tot Mei 2021 wanneer dit in die Hooggeregshof in Nelspruit op die rol geplaas is vir drie weke. Al drie mans is tans uit op borg.
