News

Hartgebroke ma onthou “38-jaar, twee maande en drie dae” saam heldindogter

Volgens verkeersman Franklin Nkosi, het Malinga vier rooi verkeersligte verontagsaam, met hom agterna, voordat hy me. Visagie rondom 10:00 die besige Saterdagoggend, in die McDonalds T-aansluiting in Lilian Ngoyistraat getref het.

Met ‘n A-3 grootte foto van die oorlede Liezel Visagie, het haar ma me. Marie Hamman, vandag die man wat vir haar dood verantwoordelik was, stip in die oë gekyk, na die foto gewys en gesnik, “dis my dogter wat jy middeldeur gery het”.

Khumbulani Malinga, die man wat skuldig gepleit het op ‘n klag van strafbare manslag weens die 23 Maart 2019 dood van me. Visagie, het bloot met ‘n geboë kop na die vloer in die beskuldigdebank gestaar, terwyl me. Hamman haar hart teenoor die hof uitgestort het ter verswaring van sy vonnis.

Die saak, wat vandag afgehandel moes word, is egter weer op die laaste nippertjie uitgestel sodat Malinga met sy regsverteenwoordiger, Sonja Weideman, kon konsulteer oor verswarende getuienes deur ‘n plaaslike verkeersman, oor wat werklik daardie dag gebeur het toe me. Visagie voor haar tienerdogter doodgery is.

Volgens verkeersman Franklin Nkosi, het Malinga vier rooi verkeersligte verontagsaam, met hom agterna, voordat hy me. Visagie rondom 10:00 die besige Saterdagoggend, in die McDonalds T-aansluiting in Lilian Ngoyistraat getref het.

Khumbulani Malinga.

Mnr. Nkosi het getuig dat hy gesien het hoe Malinga se swart BMW eers die tienerdogter skrams tref, voordat hy ‘n menslike been deur die lug sien trek het.

Hy het vertel dat Malinga oor die eerste rooi verkeerslig gery, ‘n u-draai gemaak, en in die teenoorgestelde rigting vir hom en ‘n senior kollega gevlug het. Mnr. Nkosi het so blitsig in sy gemerkte verkeersvoertuig gespring, dat hy sy senior beampte agter gelaat het.

By die volgende twee verkeersligte was Malinga gelukkig om nie voertuie te tref nie, maar by die vierde, waar me. Visagie rustig besig was om die straat Clicks toe oor te steek, het hy tussen voertuie wat vir mnr. Nkosi met sy flitsende blou ligte en loeiende sirenes wou plekmaak, ingeskiet en oor die kruising gejaag.

Me. Visagie kon haar dogter net betyds uit die pad stamp, maar is self getref. Me. Hamman het die trane probeer sluk toe sy vertel het dat haar “kinders” op pad was Clicks toe, om vir haar medikasie te gaan koop.

Sy het verder getuig dat me. Visagie haar rots was, en gehelp het om kop bo water te hou met koekieverkope en bemarking van die bakbesigheid wat me. Hamman begin het om haar Sassa pensioen aan te vul. Die drie vroue het saam in ‘n woonstel gebly, “maar nou het ek net ‘n kamer” het me. Hamman gesnik.

Malinga het ook self getuig, maar sy getuienis was vaag oor die “onderonsie” wat hy met verkeersmanne gehad het. Volgens hom het hy weg gery nadat hulle hom van kriminele dade beskuldig het.

Hy het wel aan landdros Andreas Masteroudes toegegee dat hy “uit woede” onder die verkeersmanne uitgejaag het, een rooi lig verontagsaam het, bo die spoedperk was, en me. Visagie nie gesien het nie.

Malinga het getuig hy’t agt kinders by drie vroue, waarvan net hy en een van die vroue vaste werk het.

Hy het ook vier sibbe, drie broers en ‘n suster, en sorg finansieel vir drie van hulle, ten spyte daarvan dat hulle ouer as hy is.

Drie van die agt kinders bly by hom en die vrou wat ook werk. Die res trek maatskaplike toelae en daar is geen onderhoudsbevel vir enige van die kinders in plek nie.

Hy is tans 29-jaar oud, werk by Arnot Kragstaie en woon in Kwazamokuhle.

Malinga het gepleit vir korrektiewe toesig, terwyl me. Hamman gepleit het vir direkte tronkstraf.

Malinga se swart BMW in Romans Pizza se parkeerterrein na die botsing.

Me. Hamman bevraagteken Malinga se bereidwilligheid om met sy familie te gesels vir geldelike kompensasie, “want hy kan dan nou nie eens vir sy vroue en kinders sorg nie”.

Landdros Masteroudes het ‘n korrektiewe beampte behoorlik geroskam oor die feit dat net korrektiewe toesig oorweeg is, terwyl hy skuldig gepleit het op ‘n ernstige klag.

Die beampte het toegegee dat die miskenning van ander strafalternatiewe ‘n “fout was”.

Die beampte het getuig dat sy minder as twee jaar korrektiewe verslae namens die departement doen, maar reeds drie jaar in diens van korrektiewedienste is.

Afriforum se privaatvervolginseenheid het die hofsaak bygewoon en sal op 10 Januarrie weer in die hof wees vir finale vonnisoplegging.

Back to top button