Blou-oog blondine ry DA golf tot in Doornkop
Anphia Grobler is dalk meer bekend in Vroue Lanbou Unie kringe, maar die blou-oog blondekop politieke veteraan, se handewerk strek veel wyer as net doilies hekel en decoupage.
Die afgelope 15 jaar maak raadslid Grobler haar hande behoorlik vuil in Doornkop, waar sy tydens verlede Maandag se verkiesing, as wyksraadslid ingestem is.
Daar word landwyd berig oor DA oowinnings oor die ANC by die stembusse, maar Grobler se oorwinning is veral merkwaardig in die lig daarvan dat die wyk sedert 2011, sterk agter die ANC was.
Raadslid Grobler was wel in 2006 tydens ’n tussenverkiesing as Doornkop se raadslid verkies, waar die ANC aanvanklik ingestem was.
Die ANC raadslid is egter twee maande na die 2006 verkiesing oorlede, wat gelei het tot die tussenverkiesing. In 2011 is die wyk egter terug ANC toe, maar raadslid Grobler, wat sedert 2011 op proporsionele stemme raad toe is, het besluit om die gebied haar fokus te hou.
Sy het die meerderheidstem by twee van Doornkop se drie stempunte behaal, naamlik Kranspoort en Mkhulu, en gelykop met 350 stemme by die Batlagae stempunt geëindig teen die ANC.
Raadslid Grobler sê dat die inwoners van Doornkop te lank oor die hoof gesien is en basiese dienste soos huiskrane, spoeltoilette en elektrisiteit verdien. Die raad kom al jare weg met beperkte diensverskaffing aan Doornkop omdat duisende inwoners op privaatgrond, wat in ’n grondeis terugbesorg is, woon.
Haar seun Bosman, wat ’n Mpumalanga wetgewerslid vir die DA is, het homself as die DA se burgemeesterskandidaat in Middelburg beskikbaar gestel.
Met geen oorgrote meerderheid van enige party in die Steve Tshwete raad nie, het hy egter besluit om sy provinsiale sitplek te behou.
•Intussen blyk dit dat Middelburg eers op 23 November ’n nuwe raad gaan kies.
•Die ANC en EFF het intussen onderhandel om bedmaats te word, met die EFF se voorwaarde dat hy die Govan Mbeki munisipaliteit wil oorneem en dan ondersteun hy die ANC in Steve Tshwete (Middelburg).
Die DA en MHRF (Inwonersvereniging) het ook samesprekings gehad. Die DA mag geen poste aanvaar nie, maar sal waarskynlik die MHRF ondersteun.
Op hierdie stadium is dit so vloeibaar en onseker soos die Bokke se uitslag Saterdag teen Engeland.
