Rou riool stroom in strate af
Veels geluk munisipale stakers, julle het reggekry wat niemand in 118 jaar kon nie, om die beste dorp in die land, na ’n rioolplaas te verander. Van Middelburg na Kakkamas!
Www.mobserver.co.za ontvang elke oggend berigte van riool wat in die strate afspoel.
Geliefdes wat reëlings vir ’n begrafnis moet tref by die begrafnisondernemer, Avbob, moet oor stinkende riool spring in John Magagulastraat!
En dit lyk en stink al vir ’n week só in die Sentrale Sakegebied! Sakelui wat besighede het in John Magagulastraat kan die stank nie meer verduur nie.
“Die riool loop nou al meer as ’n week oor. Die vlieë is iets verskriklik en as dit so warm is, kan ons nie leef van daardie reuk nie.”
Oral in die Middedorp kla mense oor die rioolprobleem en selfs in Dennesig se strate, soos in Bullerlaan, loop gryswater in strate af. Dit is eers gister herstel.
Vanoggend het nog lesers gekla oor rou riool wat naby die provinsiale ambulansdiens uitloop.
’n Joernalis van Die Beeld, wat die week op die dorp was, het met haar kar deur die riool in Proteastraat gery. Toe sy stop, het daar riool aan die kante van haar voertuig vasgesit.
Alhoewel die munisipale werkers onderneem het om reeds Woensdag te begin om die dorp skoon te maak, lyk dit steeds soos ’n varkhok.
Die stank by die stortingsterrein in Dennesig is onhoudbaar.
“Ons hoop noudat hulle uiteindelik teruggaan werk toe, gaan hulle probeer om dit reg te maak. Gaan hulle ooit weer ons dorp weer regkry?” het ’n inwoner hartseer gesê.
•Rdl. San-Mari Wait sê sy het al etlike kere die rioolprobleem in John Magagulastraat aangemeld.
“Ek het dit al hoeveel keer gerapporteer, maar die munisipaliteit het nog nie gehoor gegee nie.”
