Twaalfjarige se briefie aan pa: ‘Dad’ sal altyd by my wees
’n Twaalfjarige dogtertjie het in woorde probeer uitdruk hoe erg haar pa se dood vir haar is.
Abbey Moss se pa, Speedy (33), is op 11 November oorlede. Hy was op 22 Oktober in ’n motorfietsongeluk in Vosstraat (Middelburg) en sedertdien aan lewensonderhoudende masjiene gekoppel, in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal.
Mnr. Moss se begrafnis is more (Saterdag) om 10:00 uit die kapel by die Middelburg Begraafplaas en sy naaste gesinslede het briefies geskryf vir die begrafnisbrief.
Hy word oorleef deur sy vrou, Chantelle, dogter Abbey en tweejarige seuntjie Zane.
•In haar briefie aan haar pa, skryf Abbey:
“My Dad, jy’t altyd my dag so lekker gemaak, as jy met my grappe maak.
Baie dankie vir al die lekker tye saam, ek gaan ons vroegoggende tee drink en aan die eetkamertafael sit, baie mis. Ek weet Dad ry nou die golden highway daar bo met ’n twin turbo-wolkie.
Ek kan onthou toe Dad gesê het ek moet nooit weg trek as as ek ouer is nie, want Dad wil my elke dag sien, maar nou moet ek sit met net ’n memory van jou.
Ek sal Dad nooit vergeet nie, en ek sal altyd van Dad praat.
Ons het altyd so lekker saam gekuier. Ek sal nooit ons laaste Kersfees vergeet saam met die hele familie nie.
Ek is baie lief vir Dad en sal vir altyd wees. Dad sal altyd by my wees.
Tot ons mekaar weer sien, my Dad.”
