News

Wie is kind wat dwelmverslaafdes gebruik om te bedel?

Die man en vrou wat met hul sesjarige seuntjie gebedel en verdwyn het, is terug op Middelburg, dié keer met ’n kleiner blondekop dogtertjie of seuntjie.

Inwoners van Rinahof Woonstelle in Walter Sisulustraat het oor die naweek die wit Uno gesien wat in die parkeerarea staan.

“Al die karre het opwaarts parkeer gestaan, maar hulle het na die verkeerde rigting gestaan,” het ’n man (wat anoniem wil bly) gesê.

“Daar was ’n hengse rumoer buite en een tannie wou die man en vrou met die kind inlaat. Sy wou die kind ook bad, maar hulle wou dit nie toelaat nie.”

Die man sê hy is self omstreeks 22:00 na die voertuig, waar hy Francois (Cois) en Cecilia Theunissen in die voertuig saam met ’n kind sien sit het. Hy het hulle herken na vorige berigte wat oor hulle gedoen is.

Lees ook: Dorp sien rooi oor egpaar wat kind glo misbruik

“Dit was beslis nie ’n sesjarige kind wat saam met hulle was nie. Daardie kind was nader aan drie jaar oud. Dit was egter verskriklik vuil in die kar! Hulle het almal in die kar geslaap.”

Sondag het hy die voertuig weer gesien en besluit om ’n dominee of maatskaplike werker se hulp in te roep.

Die foto wat van Francois (Cois) Theunissen geneem is saam met hul sesjarige seuntjie by die wit Uno. Kort nadat dié foto op www.mobserver.co.za verskyn het, het hulle gevlug Boksburg toe. Die seuntjie is gelukkig nou weer veilig by sy ouma.

Hy het die voertuig dopgehou, maar gesien dat Cois en Cecilia (ook Dora genoem) saam met ’n ander man van SADCstraat se rigting aangestap kom.

“Die kind was nie by hulle nie. Ek was bang dat hulle die kind in die kar toegesluit het. Van waar ek gesit het, kon ek egter niks sien in die Uno nie, want die vensters is getint.”

Lees ook: Seuntjie vryf oor magie terwyl pa bedel

Die man sê hy het eers later op die Middelburg Observer koerant se webtusite gesien dit is dieselfde Jeandré du Toit, wat aan dwelms verslaaf is, wat saam met hulle in SADCstraat geloop het.

“Ek weet nie of dit hulle kind is nie, maar daardie kind moet gehelp word. Die hele tyd dink ek net daaraan dat die kind dalk in die warm kar toegesluit was!”

•Cois se familie het sowat ’n week gelede laat weet dat hulle meer as twee weke gelede die sesjarige seuntjie by Cois en Cecilia in Boksburg gaan haal het en dat hy veilig by sy ouma is. Hulle het geen idee wie die kind is wat by hulle gesien is nie.

Kort nadat die kind by hulle weggevat is in Boksburg, was die twee bedelaars weer terug in Middelburg met hul Uno. Met hul terugkeer is hulle die eerste keer in Dennesig gesien.

Lees ook: Familie sê: ‘Paartjie wat met kind bedel is dwelmverslaafdes

Daarna het mense kort-kort laat weet dat hulle die twee sien, die vrou aan die bedel en die man daar naby in die Uno. Die meeste van die tyd maak hulle of die Uno sonder brandstof gaan staan het en bedel geld daarvoor.

•’n Vrou het www.mobserver.co.za gebel en gesê haar huishulp het Cecilia met ’n klein kindjie by die Iraq Taxistaanplek gesien. Daar is egter gedink dat sy haar kon misgis het, aangesien die egpaar se seuntjie ses jaar oud is. Nou wonder almal of dit nie wel ’n ander driejarige kind is wat hulle by hulle gehad het nie.

Lees ook: Witkopseuntjie is weg by bedel ouers

•Nog ’n inwoner het laat weet dat sy paar weke gelede, kort voor die twee gevlug het na Boksburg, die sesjarige seuntjie by hulle gevat het om te gaan bad. Sy het hom gevat om vir hom lekkernye by ’n winkel en koeldrank te koop en weer vir hulle terug gegee.

“As ek destyds geweet het die ouma het na hom gesoek, sou ek hulle gekontak het en nie weer vir hulle teruggegee het nie. Die kind was vuil en verwaarloos en baie honger. Ek is net bly hy is nou weer by sy ouma!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button