News

Egpaar wat self bedel, help verslaafde Jarrid

Al bedel hulle self om net kos op die tafel te kry, het John en Kim vir Jarrid O’Connor onder dak geneem en gee vir hom kos.

Daar is al talle kere oor Jarrid, die welbekende heroïneverslaafde, wat lank op Middelburg was, geskryf. Hoe hy al keer op keer gehelp is om by rehabilitasie uit te kom, maar elke keer weggeloop het.

Onlangs is geskryf dat hy uitgeteer in ’n bondeltjie op ’n sypaadjie in Boksburg in pyn gelê het, nadat hy in ’n hospitaal vir absesse aan sy been behandel is.

John sê dit is soos hulle Jarrid gekry het. Dubbeld gevou van die pyn en met ernstige absesse aan sy voet.

Hulle het hom jammer gekry en vir hom twee komberse vir die nag gegee.

Die volgende dag het dit gereën en het hulle hom innig jammer gekry. “Ons kon hom nie net daar los nie, hy sou doodgaan. Ons het hom huistoe gebring en gesorg dat hy ’n warm bad kry….” begin John vertel van hul pad met Jarrid.

Die egpaar bly in ’n kamertjie in Malvern Oos (Germiston, Gauteng), waar hulle R1 800 per maand vir hul blyplek betaal.

John is die enigste een wat ’n inkomste het, pensioengeldjies van R1 850 per maand.

“Ons kla nie. Die Here voorsien. Ons moes net vir Jarrid help.”

Jarrid O’Connor is steeds net vel en been, maar hy lyk reeds beter as ’n paar weke gelede toe hy in pyn op ’n sypaadjie in Boksburg gelê het.

Daar was nie ’n ekstra bed vir Jarrid nie en het hulle hul eie bed opgegee vir Jarrid.

Hulle twee het geskuif na die hoek van die kamer en slaap nou op ’n matras.

Johan sê hulle weet Jarrid is ’n dwelmverslaafde, maar die jong man wat net vel en been is van jare se dwelmgebruik, het reeds diep in hul harte gekruip.

“Kim duld nie nonsens nie. Hy sal nie waag om sy dwelms hier te gebruik nie. Hy bad hier en trek skoon en netjies aan voor hy in die oggende hier uitgaan. Hy moet ook sy hoekie skoonhou.”

Om Jarrid verantwoordelikheid te leer, het hulle besluit dat hy R20 ’n dag vir sy blyplek moet betaal en R20 vir kos.

“As hy nie genoeg maak nie, is dit ook maar reg. Maar vandat hy netjies en skoon is, gee die mense meer geldjies en kos vir hom. Die kos bring hy in die aande saam huistoe.”

Kort nadat Jarrid by hulle aangekom het, het hulle gesien hy het steeds absesse op sy voet.

“Ek het hom op ’n taxi gesit om hospitaal toe te gaan, waar hulle dit skoon gemaak en verbind het. Daarna sorg Kim dat hy dit elke aand skoonmaak en lyk dit baie beter.”

John sê hulle is nie ’n rehabilitasiesentrum nie, maar “ek sal nooit my rug op hom draai nie. Ons doen wat ons kan. Ons wil nie hê hy moet daar tussen die ander druggies op straat wees nie. Jarrid is nie skuim nie. Hy is ’n mens, hy het sy absolute laagtepunt bereik en ons wil daar wees vir hom.”

John bemoedig Jarrid geestelik en vertel ook daagliks vir hom dat die dwelms die oorsaak is dat hy so in pyn is.

“Ons het hom verder aangespreek omdat hy ’n sekere persoon in sy familie net gebruik om geld te kry vir dwelms. Hy stuur nou al boodskappe van hoe dit met hom gaan. Die hoop is dat hy weer met sy familie herenig sal raak en die dwelms vir altyd sal los.”

•Verlede naweek het John se halfbroer ook by hulle ingetrek, omdat hy op straat beland het. “Ons kry een keer per week ’n kospakkie by ’n man en vrou en dit help dat ons darem genoeg het om te eet.”

•Die egpaar het vir sewe jaar ’n man, wat baie siek was, in dieselfde kamer versorg.

“Hy het Oktober in my arms gesterf, maar ek weet ons het alles moontlik gedoen wat ons kon. Ek en Kimmie was net ’n maand alleen, maar toe maak ons ons harte weer oop om te help en ons is nie ’n oomblik spyt nie.”

•Jarrid se familielid het hulle dank uitgespreek teenoor die egpaar vir hul liefde en hulp.

“Hy het vir die eerste keer in baie jare vir my ’n WhatsApp gestuur en regtig gesels, nie net gebedel vir geld nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button