Kyk: Boewe stoot gesteelde motorfiets uit erf
Mnr. Andries Engelbrecht is desperaat op soek na sy gesteelde motorfiets, wat verlede Woensdag deur vyf mans uit sy erf in Ockertstraat op Groblersdal gestoot is.
Beeldmateriaal wat deur bure se CCTV kameras opgeneem is, wys duidelik hoe die groep boewe die motorfiets moeiteloos uit die erf stoot, nadat hulle die skuifhek oopgebreek het.
Mnr. Engebrecht het die motorfiets, ter waarde van R80 000, in Meimaand laat finansier.
“Ek is steeds verantwoordelik vir die paaiement, en die boewe gaan hom moontlik ver onder sy waarde verkoop, of erger, stroop vir parte,” sug mnr. Engelbrecht.
Die motorfiets is ’n 2009 Suzuki JSXR 750cc.
’n Ander inwoner van die straat, met ’n oop erf, se motofiets is nie gesteel nie, wat mnr. Engelbrecht laat vermoed dat sy motorfiets spesifiek geteiken is.
Hy vra almal om op die uitkyk te wees vir die gesteelde fiets. Indien die motorfiets iewers opgemerk word, bel mnr. Engelbrecht by 071 598 4165 of Gunmar Sekuriteit.
