News

Willie verdien R1 000 en meer

’n Groep inwoners wat hulle oor Willie Holcher ontferm het, sê hulle sal aanhou bid vir sy welstand en dat hy uiteindelik die geveg teen dwelmverslawing sal wen, al het hy met twee geleenthede die kans op rehabilitasie van die hand gewys.

Willie is ’n bekende gesig op die hoek van Lilian Ngoyi- en Beyers Naudestraat, waar hy met een been op krukke bedel.

Hy verdien volgens sy eie weergawe enige iets van R1 000 tot R2 000 per dag uit aalmoese.

Hy het ’n Woord-in-Aksie kamp bygewoon waar hy tot bekering gekom en aangedui het dat hy reg is om die geveg teen verslawing aan te pak.

Kort na sy terugkeer in Middelburg het hy egter aggressief geword, geweier om vir rehabilitasie te gaan en uit die motor geklim.

Hy het dae daarna berou getoon en na die smeke van weldoeners, is hy wel verlede week saam met pastoor Jannie Jacobs na die Oorwinnaars huis. Daar was selfs eksverslaafdes, wat baie klein salarisse verdien, wat aangedui het dat hulle sal help om vir Willie se verblyf te betaal.

Pastoor Jacobs sê dat Willie verlede Donderdag baie positief was. Hy en nog twee mans was saam op die plaas.

Die volgende dag het een van die ander mans, wat van eMalahleni af kom, gesê dat hy gaan loop omdat hy medikasie soek en nie kan rook nie. Teen Saterdag het Willie en Riaan Jordaan (ook van eMalahleni) ook besluit om te loop.

Pastoor Jacobs sê dat Willie gesê het dat hy medikasie soek en dat die onttrekking vir hom te erg was.

“Hulle was toe al 36 ure skoon. As hulle net kon uithou tot 72 ure dan is daar hoop. Maar hulle wou nie. Hulle is vinnig hier uit en ek het kort daarna gehoor dat hulle terug in Middelburg is,” vertel pastoor Jacobs.

Hy het gehoor Willie wil weer terugkom maar dat hy nie medikasie toedien nie, omdat hy nie daarvoor gekwalifiseer is nie.

Pastoor Jacobs sê ook dat vorige ervaring met medikasie wat vir heroïenverslaafdes gebruik word, hom geleer het dat dit soms moeiliker is om van die medikasie te speen as van heroïen self.

Hy sê dat Willie vir hom vertel het dat hy tot 17 sakkies heroïen per dag gebruik.

“Dit is vreeslik baie. Ons dink vier sakkies per dag is baie maar 17! Dan het hy ’n R30 000 belastingvrye inkomste per maand waarvan hy so R800 per dag vir dwelms gebruik. ”

Hy sê dat Willie van die geld wat hy uit bedel maak, kan gebruik om vir hom Methadon of Subutex te koop, as hy dit werklik wil gebruik en dat hy hom weer sal toelaat by Oorwinnaars.

Vir inwoners wat vir Willie geld gee het mnr. Jacobs die volgende waarskuwing:

“As mense net wil besef dat daai geld wat hulle gee, dalk die oorsaak kan wees dat hy eendag sterf aan ’n oordosis. Hulle is dan verantwoordelik vir die persoon se dood en sal eendag daarvoor moet verantwoording doen.”

Hy sê ook dat mense nie vir verslaafdes kos moet gee wat hulle weer kan verkoop nie en liefs moet by staan as hulle dit eet. Dieselfde geld vir klere want dit word meeste van die tyd vir ’n appel en ’n ui verkwansel vir dwelmgeld.

Back to top button