Dief loop met kerk se klanktoerusting op kop
Met die kerk se klankversterker op sy kop, het ’n dief doodluiters voor CCTV videomateriaal verby gestap.
Ds. Hardus van Niekerk (NG Suid) sê die dief het, nadat hy gevang is, vir hom gesê: “it was ’n big mistake’.
Daar het Sondag ’n koor vanaf Pretoria by die NG Suid gemeente opgetree. Na die diens het hulle verversings vir die koorlede bedien. Terwyl hulle saamgekuier het, het ’n man van die straat af ingestap gekom en daar rondgestaan.
Die man het na ds. Van Niekerk gestap en gevra vir geld. “Hy het gevra vir werk, want volgens hom, is sy sussie dood en hy het geld nodig.”

Ds. Hardus het aan hom verduidelik dat hy hom nie nou kan help nie, maar dat hy Maandag moet terugkom, dan kan hulle praat oor ’n moontlike werkie. Nadat die koor vertrek het, het hy die man nog sien afloop in Kogelstraat, maar toe hy sluit, hom nie weer gesien nie.
“Ek was pas tuis, toe hulle my bel en sê die alarmogies het beweging in die saal opgemerk.”
Reaksieoffisiere van Mid Alarms het reeds die verdagte vasgetrek.
Shane van Rooyen (operasionele bestuurder, Mid Alarms) sê hulle het gereageer toe die alarm afgaan.
Met nadere ondersoek het een van die eienaars van ’n besigheid oorkant die kerk in Samora Machelstraat vir hulle gesê dat hy gesien het hoe die boef oor die kerk se palissadeheining spring in Kogelstraat.
Op sy CCTV materiaal het hy hulle gewys hoe die boef die klankversterker op sy kop dra en aanstap na die hoeke van Kogel- en Framestraat.
Daar is die klankversterker onder ’n bourommelboks gevind. By die kerk is die dief ondervra en hy het vir hulle gaan wys waar hy die hakke, waaraan die klankversterker vas was in die muur, gegooi het.
Ds. Van Niekerk sê hulle was vasbeslote om ’n diefstalsaak te open, maar ’n groot skok het op hulle gewag. Die polisie het gesê dat hulle die klankversterker moet vat as bewysstuk vir die saak.

“Die klankversterker is tussen R5 000 en R6 000 werd en ons moet hom gebruik. Ons het geen idee hoe lank die saak gaan duur nie en hoe lank die versterker by die polisie gaan bly nie. Wat sê jy vir jou versekering? Jy kan dit nie eis nie.”
Hulle het besluit om nie ’n saak te maak nie.
“Dit is eintlik ’n open en shut case want die man het erken hy het die versterker gevat en selfs gaan wys waar die hakke was. Die saak kon Maandag begin en Vrydag klaargemaak het. Maar in die regstelsel werk dit ongelukkig nie so nie.”
Twee dae later is die man weer in die straat opgemerk.
•’n Maand gelede het koperdiewe kragkabels buite die kerkgebou, maar steeds op die gronde (aan die binnekant van die palissade heining), geknip en die kabels uitgetrek vir koper.
’n Week later is die kabel wat krag voorsien aan hul Muur-van-Herinnering ook geknip en gesteel. Die kabeldiewe het R20 000 se skade aangerig.
