Diewe steel duisende liters diesel
Met die blitsige optrede van reaksie-offisiere van Mid Alarms is 51 kanne diesel teruggekry wat by X-Fuels langs die N4 (Bethalpad-afrit) gesteel is.
Mnr. Albert Hanekom (depotbestuurder, X Fuels) sê die boewe het kort voor middernag verlede Woensdagaand die buitenste draad geknip en sekondes later die binneste drade waaraan die alarms gekoppel is.
Die sekuriteitswag naaste aan die drade het ondersoek gaan instel, maar is deur die boewe oorrompel en met ’n pyp, waaraan ’n groot bout is, oor die kop geslaan. Hulle het hom met tou vasgebind.
Hul ander sekuriteitswag het kort daarna ondersoek ingestel en is ook hy oorrompel en met sy eie skoenveters vasgebind.
Die twee sekuriteitswagte is bo-oor die N4 gedwing en onder ’n boom laat sit. Een van die booswigte het by hulle wag gehou.
Mnr. Hanekom vermoed die diewe het hul dieselkanne al deur die dag tot langs ’n muur aan die oorkant van die N4 naby die Vaalbank informele nedersetting gedra.
“Ek dink hulle het die kanne aan mekaar vasgemaak met tou om dit makliker te dra.”
Met Mid Alarms se reaksie-offisiere se aankoms op die perseel, het hulle die spoor gevolg oor die N4 en eers 39 vol 25 liter kanne agter die muur gevind. ’n Ent verder het nóg ses kanne gestaan en sowat 200 meter verder nog ses kanne.
Hulle het die diewe in die bosse probeer agtervolg, maar hulle het die nag in verdwyn.
Mnr. Hanekom sê nadat hulle die kanne weer leeg gemaak het in die tenks, het hulle gesien dat die diewe weggekom het met sowat 136 liter diesel. Hy sê dat hulle die afgelope vyf maande erg onder diesel diefstalle deurgeloop het.
Drie en ’n half weke gelede het rowers die sekuriteitswagte oorval, ingery met ’n dieseltenker en 13 000 liter diesel gesteel.
Met ’n ander voorval het hulle weggekom met 8 000 liter diesel en in hierdie tyd is daar ook ingebreek by hul kantore.
“Ons het ons sekuriteit sterk opgeskerp om verdere diefstalle te voorkom,” sê mnr. Hanekom.
