News

DA se raadsbesluit het dorp van stropers gered

Die DA het die dorp waarskynlik van die stropers gered!

Beide die MHRF en EFF het die onwettige staking deur munisipale werkers ondersteun en hulle sou die septer in die raad geswaai het, indien die DA voortgegaan het met sy aanvanklike plan om die MHRF te ondersteun.

Die MHRF wou ook dadelik van munisipale bestuurder, advokaat Bheki Khenisa, ontslae raak en die party sê steeds, dit bly sy eerste prioriteit.

Die onmiddellike afdanking van advokaat Khenisa sou ’n reeds onstabiele munisipaliteit net verder skade berokken het. Advokaat Khenisa se kontrak verstryk laat volgende jaar, wat die raad met genoeg tyd laat om ’n opvolger te soek, sou daar besluit word om nie advokaat Khenisa se kontrak te verleng nie.

Tydens Dinsdag se sitting was lede van die MHRF uit die staanspoor baie aanvallend teenoor advokaat Khenisa en die kwessies wat geopper is deur die MHRF kan as duidelike aanduiding van die party se fokus in die munisipaliteit gesien word.

Die kwessies van munisipale gradering is deur die MHRF se Ben Mokoena geopper, met Mokoena wat wou weet waarom die munisipalieit steeds op vlak 4 is, en nie op vlak 5, of inderdaad vlak 6 nie!

Indien die dorp na ’n hoër vlak opskuif kan dit die dorp miljoene kos.

Die party het ook gehamer oor waarom daar net ses burgemeesterkomiteelede is, as die munisipaliteit inderwaarheid agt kan hê.

Die ANC het besluit om die burgemeesterkomitee steeds op ses lede te hou na Dinsdag se sitting, wat die dorp ook geld spaar.

Daar kan aangeneem word dat die MHRF homself wou vergewis van dié kwessies, wat beide groot gedelike implikasies vir belastingbetalers inhou, terwyl die party nog onder die indruk was dat ’n opposisiekoalisie die MHRF in alle leierskap posisies sou verkies.

Die DA het die minderheidsparty se planne egter gekortwiek, terwyl die MHRF en EFF saamgespan het tydens die raadsverkiesings.

Burgemeester Mhlonishwa Masilela (ANC), Speaker Thomas Mpye (onafhanklike) en Hoofsweep Casious Mashiloane (ANC), is almal met 22 stemme tenoor MHRF kandidate se 16 stemme vir sy eie kandidate, verkies.

Die DA en VF+, met ’n gekombineerde 20 setels, het hul stemme in die verkiesing van burgemeester, speaker en hoofsweep weerhou, terwyl die EFF sy nege stemme agter die MHRF se sewe in al die verkiesings gegooi het.

Met die ANC se 21 stemme, plus die een van die onafhanklike raadslid Thomas Mpye, en die drie van die VF+, is DA raadslid Hennie Niemann met 41 stemme teenoor Rehana Pilodia van die MHRF se 16 stemme, verkies.

Middelburgers was self salig onder die indruk dat blote haat vir die ANC, opposisiepartye sou saamsnoer, maar met ’n herhalende “onthou, onthou onthou,” maal 20, het die DA en VF+ dié verwagting vertroebel.

Beide die DA en VF+ sê hulle het verantwoordelik opgetree deur enige samewerking met die EFF te weier.

“Dit sou onverantwoordelik wees om ’n minderheidsparty met geen ondervinding of standvastigheid volmag te gee,” sê die DA.

Die MHRF se beloftes om stakende munisipale werkers weer aan te stel, tariewe vir bywoners te skrap, en die munisipaliteit na ’n vlak 5 instelling te verhef, het grotendeels tot sy sukses by die stembusse bygedra, maar tot sy mislukking in die raad gelei.

Die DA is nou die waghond van die munisipaliteit se besteding, met Niemann se verkiesing tot die bestedingsoorsig-komitee.

Die beste toets vir inwoners vir die lojaliteit van hul gekose partye, is om hul raadslede oor die volgende vyf jaar dop te hou, en te kyk wie wel by sy beloftes hou en in belang van die gemeenskap, en nie in politieke gewin, optree.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button