‘Veg saam met ons teen dwelms!’
As jy nog nie jou steun toegesê het aan die span wat ’n daadwerklike poging aanwend om Middelburg se strate dwelmvry te probeer maak nie, is dit nou jou kans.
Hierdie groep groei elke maand en daar was ’n sterk teenwoordigheid tydens verlede week se vergadering.
•Me. Elna Lewis, wat destyds ’n stigsterslid was van die Oorwinnaars, het haar steun aan die groep toegesê.
Sy werk al jare onder dwelmverslaafdes, veral vroue, en het gesê dat sy bereid is om te help as daar vroue vir dwelms getoets moet word. Me. Lewis kan verder help met berading en raad gee waarheen om verslaafdes te neem.
Sy het gemeld dat die “Chainbreakers” groep by Corpus Christi ondersteuning bied vir enige verslawing, van alkohol-, tot dwelm en selfs pornografiese verslawing.
•Past. Jannie Jacobs (Oorwinnaars Halfweghuis) het uitgebrei oor die werksaamhede van die Oorwinaars Halfweghuis. Hy help al jare mans met dwelmverslawing.
Hy het weer gevra dat mense nie geld moet gee vir verslaafdes nie, aangesien hulle die geld net vir dwelms gebruik. As die verslaafdes nie meer geld kry vir dwelms nie, sal hulle vir hulp gaan aanklop.
•Mnr. Henry Brits sê die Almal Help Almal Vlerke organisasie spits hulle daarop toe om mense bewus te maak van die dwelmprobleme op die dorp. Hulle vaar gereeld met plakkate die dorp in om mense te vra om eerder organisasies te ondersteun as om geld vir verslaafdes te gee.
Hul organisasie help ook tans by die New Life Centre (voorheen kibboets).
•Mnr. Luke Belcher (New Life Centre – ou kibboets) kan nie dwelmverslaafdes help nie, maar huisves haweloses.
Alhoewel die plan was om eers later haweloses soontoe te laat kom, omdat hulle maar pas begin het om die kibboets weer te laat herleef, het daar reeds verskeie mense opgedaag.
•Mnr. Marcel de Villiers het ’n passie vir die Woord in Aksie kampe en het genoem dat hulle die vorige naweek verslaafdes saamgeneem het “wat ’n ontmoeting met Jesus gehad het.”
Hy is deel van die Middelburg4Jesus groep en het gesê dat hulle ondersteuning sal bied sover as wat hulle kan vir die groep.
Mnr. De Villiers het die belangrikheid van hierdie kampe uitgelig en gesê as daar mense is wat werklik wil gaan en dit nie kan bekostig nie, geborg sal word.
“Die hulp vir verslaafdes is net die hantering van ’n simptoom. Hulle moet eers by Jesus uitkom.”
•Mnr. en me. Stephan en Belinda Nortjé het die groep meer vertel oor die werksaamhede van “Serving Disciples” wat Dinsdagaande die Woord bring én iets te ete gee vir verslaafdes. Dit is een van die bedienings by die Kruisgenerasie (VEK).
“Baie mense sê hulle kom net vir die kos, maar ons sien hoe hulle verander. Ons is net daar om die saad, die mosterdsaadjie, te wees wat ons in hulle siele saai. Ons stap ’n pad met hulle. Ons gee eers vir hulle Jesus en dan kyk ons na rehabilitasie. Hulle kom vir kos, maar dan raak die Heilige Gees hulle aan.”
Die groep gee in plaas van geld vir haweloses by straathoeke traktaatjies met ’n Bybelteks, asook ’n uitnodiging na hul byeenkomste Dinsdagaande.
Hulle het ook vertel van die suksesse van die BRC (Barberton Recovery Centre) wat bedryf word deur die Mpumalanga Volle Evangelie Kerk. Daar is reeds twee verslaafdes van Middelburg wat daar gehelp word.
•Me. Judy van Deventer en mnr. Ishmail Lunga het vertel van die suksesse by die Leef Liefde Organisasie. Me. Van Deventer sê sy is veral trots op die twee Fourie broers wat nou al vir weke skoon is en hard op die Leef Liefde plaas werk.
•Me. Anna Matsana het ook die vergadering bygewoon omdat sy nie meer weet waar om aan te klop vir hulp nie. Haar seun is ’n dwelmverslaafde (hy het Tik gebruik) en is in die tronk.
•Me. Nella Lentsoane het haar steun ook aan die groep toegesê. Daar het al talle verslaafdes by haar gebly en haar besteel.
“Daar moet iets gedoen word! Ons dorp is swart van die dwelms!”
•Mnr. André Janeke (Middelburg Intersessors) het vertel van die ongelooflike waardeprogram wat geïmplimenteer is by Laerskool Kanonkop en hoe belangrik dit is dat kinders van jongs af waardes geleer moet word.
Persone wat deel wil word van die WhatsAppgroep, “Stop Feeding an Addiction”, kan ’n WhatsApp stuur na 076 966 9682.
•Van die lede van die groep het pamflette begin saamstel, wat hulle oral wil versprei om mense te wys dat daar wel ’n oplossing is, maar dan moet die gemeenskap begin saamstaan.
