Beeste se ore gesny om diefstal te verbloem
’n Boer van die Belfast/Dullstroom omgewing is moedeloos nadat daar sedert Augustus sowat 50 beeste by hulle gesteel is.
Celeste Combrink sê dat hulle skaars kans kry om te boer, omdat hulle pal agter veediewe moet aanhardloop. Werkers maak beurte om nagskof te werk, om die beeste op te pas.
“Hulle is net so moedeloos soos ons. As dit so aanhou gaan hulle hul werk verloor, want ons gaan gedwing word om die kudde te verkoop,” sê me. Combrink.

Sy sê dat hulle Maandagoggend spore na ’n kraal aan die buitewyke van Belfast gevolg het, nadat hulle deur wagte ingelig is dat daar beeste deur die nag gesteel is.
By die kraal het hulle drie van hul koeie teruggekry. Een koei het vreeslik gebulk en met ’n gesoek het hulle op haar kalf afgekom, wat aan ’n boom vasgemaak is.
’n Persoon wat daar naby bly, het hulle ingelig van ’n vreemde koei wat nou al vir amper ’n maand tussen ’n plaaslike kudde weggesteek word. Hulle het toe nog een van hul koeie teruggekry, wat ’n geruime tyd gelede gesteel is.

“Die nuwe brandmerk het al gesond geword. Haar ore is versnipper om van ons oormerke ontslae te raak,” vertel me. Combrink. Sy kon die koei as haar eie identifiseer te danke aan ’n mikroskyfie.
Hulle het van die 50 beeste wat oor die afgelope tyd gesteel is, sowat 10 teruggekry. Hulle het ook op ’n gesteelde skaap afgekom, waarvan die tatoeërmerk uit die een oor gesny en die ander oor reeds met ’n nuwe nommer getatoeër is.
Me. Combrink sê dat hulle minstens ses sake by die polisie oopgemaak het oor die laaste paar maande. Van die sake is sommer twee veediefstal gevalle wat op een dossier saamgevoeg is.
Talle boere in hul omgewing gaan gebuk onder dieselfde lot met skape en beeste wat gesteel en geslag word.

“Ons het bloot net nie meer die tyd om by die polisie uit te kom elke keer wat daar beeste gesteel is nie, dan word daar twee of drie gevalle se diefstal sommer op dieselfde dossier gesit.”
Sy sê dat dit die Veediefstaleenheid twee ure geneem het om op die toneel aan te kom terwyl die Belfast polisie, wat skaars vyf kilometer van die kraal is, nog ’n halfuur later opgedaag het, met die verskoning dat hulle net twee voertuie beskikbaar het by die stasie.
“Ons weet wie die verdagte is. Die polisie weet wie die verdagte is. Dit is die tweede keer wat ons beeste in sy kraal kry, maar niemand doen ’n ordentlike ondersoek en arresteer hom nie. Die veediefstaleenheid moes twee weke gelede ’n lasbrief bekom om duidelike leidrade op te volg en verdagtes te ondersoek. Dit is nooit gedoen nie.”
Sy sê ook dat hulle gehoor het van ’n vermeende veedief wie se sake verlede week in die hof teen hom teruggetrek is omdat hy beweer het dat die polisie nie sy regte vir hom gelees het nie.
“Ons weet nie wie om by die polisie te vertrou nie, want dit is duidelik dat daar korrupsie is, anders sou hierdie manne lankal gevang gewees het. Dit is ook geen geheim dat daar korrupte polisiemanne by die veediefstaleenheid is nie. Mens wonder elke keer of jy nou die inliging aan die regte of verkeerde persoon gee.”
• Daar is onlangs berig oor toenemende bendegeweld in Belfast wat met die moord van verskeie mense verbind word. Inligting van ’n bron is dat een van die oorsake vir die bende-oorlog is omdat twee bendes onder andere baklei oor geld vir gesteelde beeste wat glo deur een groep aan ’n ander geskuld word.
