Du Plessis beken skuld op bejaarde se moord
Tertius du Plessis het minute gelede skuldig gepleit op ’n klag van moord en roof met verswarende omstandighede.

’n Klag van huisbraak is teen hom teruggetrek.
Du Plessis erken dat hy me. Johanna Rossouw (86) op 31 Januarie in haar huis in die Edenpark Versorgingsoord in eMalahleni, vermoor het.
Haar liggaam is met verskeie steekwonde deur oordsekuriteit aangetref nadat Du Plessis met me. Rossouw se wit Honda Jazz by die oord se hekke uitgery het.
Die voertuig is ’n dag later in Krugersdorp opgespoor terwyl Du Plessis hom op 3 Februarie aan die Mondeor polisie gaan oorgee het.
Hy het nege vorige veroordelings.
Du Plessis het vroeër in trane uitgebars nadat hy vir die hof gesê het dat hy graag met sy slagoffer se familie wou praat.
Hy het snikkend gesê “ek is vreeslik jammer,” voordat hy skuld beken het.
Me. Rossouw se dogter getuig tans ter verswaring.
Du Plessis het me. Rossouw vasgebind, voordat hy haar vermoor en met haar motor en ander besitting op die vlug geslaan het.
