Kyk: Vermeende versorgingsoord moordenaar in trane
Die vermeende moordenaar van die 86-jarige me. Johanna Rossouw, wat op 31 Januarie dood in haar huisie in eMalahleni se Edenpark versorgingsoord deur sekuriteit aangetref is, het minute gelede ’n tranerige verskoning in die hooggeregshof aangebied.
Tertius du Plessis, wat homself op 3 Februarie aan die Mondeor polisie oorhandig het, het in die hof versoek om “met die familie van die vermoorde te praat,” voordat hy in trane uitgebars het.
Du Plessis het tydens sy vorige hofverskyning ’n nuwe advokaat versoek, “wat hom in die oê kan kyk en sê ek glo jou”.
Sy versoek is gister toegestaan, en die saak is uitgestel na vandag in die rondgaande hooggeregshof op Middelburg.

Sekuriteitswagte by die versorgingsoord het onraad vermoed toe ’n man, op die Sondag van die moord, met me. Rossouw se wit Honda Jazz by die hekke uitgery het.
Die motor is twee dae voordat Du Plessis hom oorgegee het, in Krugersdorp terug gevind. Daar is ook beslag gelê op ander gesteelde items.
Du Plessis het kort voor sy arrestasie ’n stempos aan ’n vriendin gestuur waarin hy omverskoning gevra het. Hy het egter nie uitgebrei oor waarom hy omverskoning vra nie.
