Moordenaar pleit: ‘Ek is regtig baie jammer’
“Noudat ek meer van haar weet, as sy nou hier was sou sy tien teen een vir my gevra het ‘My kind hoekom doen jy so iets?’ Ek is regtig baie jammer vir dit wat ek aan julle gedoen het. Sy het dit nie verdien nie. Daar is niks meer wat ek kan sê of doen nie.”
So het ’n emosionele Tertius du Plessis, wat Johanna Rossouw (86) in Januarie vermoor het, vanuit die getuiebank vir haar familie verskoning gevra.
Du Plessis het skuldig gepleit op klagtes van roof met verswarende omstandighede en moord. Hy het die getuiebank betree om die hof te help om ’n beslissing oor sy vonnisoplegging te maak.
Hy het gesê dat hy in 6 Julie 1984 gebore is, in die Middelburg en eMahaleni omgewing grootgeword het, ongetroud is en geen kinders het nie.
Hy het as nutsman gewerk en R10 000 verdien ten tye van die moord. Hy het saam met sy meisie en haar twee dogters gebly en glo die dag van die moord al sy geld waarmee hy kos moes koop uitgedobbel.
In sy pleitverduideliking sê Du Plessis dat hy net wou steel en nie geweet het dat daar iemand in die huis is nie.
Toe mev. Rossouw hom betrap en begin skree het hy haar verskeie kere met ’n mes in die nek en bors gesteek.
Advokaat Derik Rowles, vir die staat, het aan die hof gesê dat Du Plessis nege vorige veroordelings het.
Hy is van Junie 2009 tot Maart 2014 vir onder andere diefstal, huisbraak, die besit van verbode middels en huisbraak met die doel om iemand ernstig te beseer, aangekla in die Hermanus, Caledon en Gansbaai area.
Du Plessis het self getuig dat hy vier en ’n half jaar skoon van dwelms was, toe hy in Januarie 2019 teruggeval het en kristal methamfetamien gebruik het op die dag van die moord.
Hy het aan advokaat Rowles gesê dat niemand of niks hom die moord laat pleeg het nie, maar dat hy nie weet hoekom hy dit gedoen het nie.
Advokaat Rowles het aan hom gevra oor sy lang lys vorige veroordelings.
“Wat gaan jou laat ophou, as die hof dit nie doen nie?”
Mev. Rossouw se dogter het getuig oor hoe heg die familie was. Hulle het haar juis van Carolina na die oord in eMalahleni geskuif, nadat daar by haar huis ingebreek is na haar man se dood.
Sy is as steunpilaar beskryf wat nie vreeslik lief was vir sosiale geleenthede nie en liefs by die huis wou wees, om na haar gesin om te sien.
In emosionele getuienis het sy Du Plessis vergewe “omdat sy ’n kind van God is en nie na haar God kan gaan as sy hom nie vergewe nie.”
Die saak word more voortgesit.
