News

Pensionaris ruk sekuriteitswag se masker af

Dit was weer nag vir “sekere inwoners” by die munisipale lisensiekantore, na ’n onderonsie buite die hek, waarna kassiere in die gebou na bewering deur ’n munisipale amptenaar “aangesê is om nie die witmense te help nie”.

Dit is nie die eerste keer dat bewerings van blatante rassisme gemaak word nie.

Me. Suzette Steyn sê dat sy die middag lank in ’n tou buite die hek saam met talle ander kliënte gewag het om deurgelaat te word. Terwyl hulle gestaan en wag het, het verskeie voertuie by die hek gestop, waar daar gesprekke met die sekuriteitswagte gevoer is.

“Kort na die gesprekke is die mense in die voertuie ingelaat, terwyl ons aangesê is om te wag,” sê me. Steyn, wat by die werk moes afvat om haar lisensie wat gister verval het, te hernu.

Sy sê dat die sekuriteitswagte keer op keer deur wagtende kliënte gevra is “waarom sekere mense deurgelaat word, wat nie in die ry was nie,” waarop daar glo elke keer net bloot geantwoord is, “hulle kom kollekteer”.

Toe nog ’n motoris na ’n geselsie met een van die sekuriteitswagte deurgelaat is, het ’n manlike pensioenaris een van die sekuriteitswagte se maskers van sy gesig afgepluk.

Toe die wag afbuk om die masker op te tel, het die tou wagtende kliënte ’n kans gewaag en deur die hekke na binne gebars.

Dit is toe, volgens me. Steyn, dat sy en ander gesien en gehoor het hoe ’n amptenaar in die gebou rondloop en kassiere beveel om nie die inkomende kliënte te help nie.

“Daar is pertinent gesê om nie die witmense te help nie,” sê me. Steyn.

Volgens die munisipale kommunikasiehoof, me. Prudence Magutle, is me. Steyn se bewerings nie vergesog nie.

Me. Magutle het erken dat die munisipaliteit al verskeie soortgelyke klagtes ontvang het, maar ondersoeke bemoeilik is, omdat daar geen “konkrete bewyse” is nie.

Sy erken dat video en foto bewwyse moeilik is om te neem midde ’n onderonsie oor diensverskaffing, met diegene wat die dienste sonder vooroordeel moet verskaf.

“Dit lei gewoonlik net tot verdere konflik, en in sommige gevalle het van die klaers self omkoopgeld betaal om gehelp te word, en die korrupsie dan daarna aangemeld,” sê me. Magutle.

Sy het die klagte onder die departementhoofde se aandag gebring, “sodat meer intensiewe toesig gehou kan word”.

’n Verdere probleem is die geldspoor van sekuriteit na amptenare.

“Dit beteken geld wissel hande, en om die spoor na te volg is bitter moeilik,” erken me. Magutle.

Sy het die betrokkenes van Dinsdag se drama gevra om amptelike klagtes te gaan lê.

Foto’s van die betrokke sekuriteitsmanne is wel deur ’n klaer aan www.mobserver.co.za verskaf, en is reeds aan die munisipaliteit gestuur.

Me. Magutle waarsku egter dat die voortslepende korrupsie by die lisensiekantore nie noodwendig ’n rassetoon het nie, “soos ons verstaan word almal wat omkoopgeld, swart of wit, betaal, voor wagtende kliënte gehelp”.

“Ons versoek die klaers om na vore te kom sodat deeglike ondersoek gedoen kan word, en opgetree kan word teen skuldiges,” pleit me. Magutle.

Korrupsie by die departement is lank reeds onder die soeklig met DA raadslid, San-Mari Wait, wat sê “dis ’n ope geheim dat omkopers gehelp word”.

Me. Wait het al self ongesiens gesit ek kyk hoe sommige kliënte bloot ingelaat word, “terwyl ellelange toue buite die hek moet wag”.

Me. Steyn sê dat sy nou weer moet teruggaan, terwyl sy binne besigheidsure haar lisensie kon vervang, “en nou moontlik ’n boete gaan moet opdok, wat ’n onregverdige inkomste vir die munisipaliteit is, omdat sy eie amptenare agter die korrupsie sit”.

In antwoord hierop het me. Magutle gesug, en gesê “jammer”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button