Egpaar bly in kar met blondekop seuntjie
Die egpaar wat hul blondekop seuntjie gebruik het om te bedel, is terug in die dorp, stap met hom in Iraq Taxistaanplek rond, wat bekend is as dwelmnes, en slaap saam met hom in ’n Uno.
Sakelui (wat anoniem wil bly) het www.mobserver.co.za gekontak en gesê dat hulle vir Francois (Cois) en Cecilia (ook Dora genoem) “elke dag by die Iraq Taxistaanplek met die blondekop seuntjie by hulle sien.”
Die kind was op die ma se rug, terwyl die egpaar deur die staanplek gestap het.
“Die ou seuntjie het ’n blou tassie by hom gehad, terwyl hulle deur die taxistaanplek gestap het. Hy was kaalvoet en sy ma het hom opgetel omdat dit gelyk het of sy voete brand van die warm teer. Hy het ’n verslete driekwart broekie en ’n hempie aan gehad.”
Een vrou het gesê dat sy twee maande gelede reeds die polisie gebel en vertel het wat voor haar oë gebeur het.
Lees ook: Seuntjie vryf oor magie terwyl pa bedel
“Dit was toe julle op die website oor die twee geskryf het. Ek het vir die polisieman wat ek gebel het, gesê dat ek gesien het hoe die ouers, met die kind by hulle, dwelms koop in die Iraq Taxistaanplek. Hy het vir my gesê ek moet bewyse hê en ek moet ’n maatskaplike werker kontak.”
Die vrou sê kort daarna het sy op www.mobserver.co.za gelees dat die egpaar verdwyn het. Sy was baie bly toe sy verneem dat die kind se ouma hom by hulle weg gevat het.
“Nou is hulle terug en is elke dag by die taxistaanplek. Ek kan nie sê dat hulle weer dwelms koop nie, want ek het dit nog nie weer gesien nie. Maar wat soek hulle dan anders daar?”
Hulle het gemeld dat die Uno (met ’n Gautengse registrasienommer) bedags in Walter Sisulustraat geparkeer staan, waarna die ouers afstap in die straat tot by die deurloop na die taxistaanplek.
Lees ook: Familie sê paartjie wat bedel is dwelmverslaafdes
“In die aande slaap hulle saam met die kind in die kar, waar hulle ook al parkeer in Walter Sisulu!”
•Daar is al talle kere die afgelope twee maande oor die egpaar berig.
Die famlie het www.mobserver.co.za na die eerste berigte gekontak om die kind by hulle weg te vat.
Hierdie week is die familie weer gekontak vir navrae oor waarom die kind weer by sy ouers is. Die familie wou nie kommentaar lewer nie.
Lees ook: Witkopseuntjie is weg by bedelouers
•Maandagaand is Dora van kort voor 19:00 af in onder andere Viljoenstraat (Groenkol) gesien. Sy het by huise vir kos gebedel en gesê sy het ’n kind om te onderhou.
“Sy was baie netjies geklee en het het drie rugsakke by haar gehad. Ons het nie die Uno, haar man, of die kind gesien nie.”
