Mans in blou BMW gebruik ook AR15 aanvalsgewere
’n WhatsApp boodskap wat die rondte gedoen het dat vier mans in ’n blou BMW rondry met AK47 vuurwapens, blyk tog nie so vergesog te wees nie.
Die boodskap het Vrydagaand op ’n noodgroep deurgekom dat mense versigtig moet wees. Op die groep is mense ook gemaan om hulle nie te konfronteer nie.
Nadat die berig op wwwmobserver.co.za verskyn het, het mnr. Yusuf Zeea Mojoe op die Middelburg Observer se Facebookblad gesê hoeveel keer ’n blou BMW by misdaad was die afgelope paar maande.
“Mans met ’n blou BMW het die ATM in Nasaret gebom. Mans met ’n blou BMW was ook betrokke by die bom by Choppies. As dit ’n blou E36 shape is, is dit definitief hulle,” sê mnr. Mojoe.
“Ek het hulle self gesien met die bombing in Nasaret. Hulle het in ons rigting geskiet met ’n AR15 aanvalsgeweer. Ons het die doppe saam met die polisie gemerk met blikke.”
Mnr. Mojoe het gemeld “dat volgens die straatpraat dat die groep van Nelspruit is en ook betrokke is by die bombing in Hazyview en ander plekke. Die modus operandi is altyd dieselfde: vier bravo mans, AR15’s, handwapens, blou BMW, patrolleer in en om Middelburg….”
•Daar is ook mense wat wonder of die groep nie betrokke was by die transitorooftog Saterdag op die N4/N12 skeiding nie.
Tydens die oor-en-weer skietery is twee lede van die Middelburg Blitspatrollie, asook twee sekuriteitswagte gewond.
Die rowers het ’n paar voertuie tydens die aanval gebruik.
