Du Plessis kry lewenslank vir moord
Tertius du Plessis, wat skuld beken het op die Januarie moord van me. Johanna Rossouw (86) in haar huis in die Edenpark Versorgingsoord, is pas lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die verfoeilike daad.
Hy’s ’n verdere 15-jaar gevangenisstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede.
Die hof het die moord as brutaal beskryf.. Me. Rossouw is vermoor in ’n tuiste waar sy veilig moes wees.
Volgens die nadoodse verslag, het Du Plessis die bejaarde vrou 28 steekwonde toegedien, nadat hy by haar oop deur ingestap het met die doel om te steel.
Die messteke was so kragtig dat me. Rossouw se nekbeen gebreek is, en haar longe platgeval het.
Die hof sê dat me. Rossouw geen bedreiging vir Du Plessis was nie, en haar hande was vasgebind. Daar is bevind Du Plessis het vir die slagare in me. Rossouw se nek gemik, met die doel om haar te vermoor.
Volgens die hof het Du Plessis die regte ding gedoen deur homself kort na die moord aan die Mondeor polisie te oor te gee.
“Me. Rossouw was die matriarg van haar familie, ’n ma, ouma en oumagrootjie.”
Die hof het verder bevind dat daar geen omstandighede aangebied is om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.
Voor die vonnis uitgelees is, het Du Plessis onbedaarlik begin snik in die beskuldigdebank.
Hy het na vonnisoplegging na me. Rossouw se familie gedraai en wéér gesê hy is jammer.
Du Plessis is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Die hof het gesê Du Plessis verdien wel “genade” vir die “grootste fout van jou lewe”.
Advokaat Derik Rowles het namens die staat opgetree.
