Slinkse huishulp gearresteer!
Johanna Sambu Ngwenya, die geslepe huishulp wat al derduisende rande se huisware by mense gesteel het, is deur vernuftige speurwerk van een van haar slagoffers, vanoggend gearresteer.
Met die hulp van die vrou, by wie Johanna vandag gewerk het, is sy deur twee lede van die gemeenskapspolisiëringsforum, Charmain van der Merwe (hoof uitvoerende sekretaresse, Middelburg GPF) en Jo van Rooyen (waarnemende voorsitter, GPF Sektor 4) gearresteer.
Me. Leigh-Ann van Niekerk sê sy het op 6 November vanjaar ’n diefstalsaak by die polisie geopen, nadat Ngwenya haar besteel het by hul huis in Steve Bikostraat (Dennesig).
Boonop het Ngwenya se “man”, wat homself “Ronnie” genoem het, by hulle in die tuin gewerk.
“Sy het vlot Afrikaans gepraat en gesê hoe goed sy is met kinders.”
Die twee het ’n week by die Van Niekerks gewerk en daarna verdwyn. Me. Van Niekerk sê haar skootrekenaar en hardeskyf met al hul foto’s op, asook ’n tablet en ’n klomp vleis is gesteel.
Die skade was sowat R20 000 en die versekering het nie uitbetaal nie, omdat sy self vir Ngwenya in haar huis toegelaat het.
Verlede week het sy vir Johanna in die Middelburg Observer herken en die foto op sosiale media begin deel as die persoon wat by haar gesteel het.
“Selfs rdl. Helda de Klerk het dit vir ons op die Kanonkop/Dennesig munisipale probleme se WhatsApp groep gedeel.”
Gister het ’n vrou haar laat weet dat die einste vrou wat by haar werk in Jakarandastraat (Kanonkop), beslis Ngwenya is.
“Ons het ’n reëling getref dat sy haar moet laat inkom en die GPF het haar daar vasgetrek.”
Daar is gesê dat Johanna skoon oorbluf was toe hulle instap en haar arresteer, maar met haar aankoms by die speurtak “was sy weer vol bravade en het in haar taal ’n hele paar dinge kwytgeraak.”
•Verskeie inwoners het Ngwenya Dinsdagoggend saam met twee mans sien loop in Essenhoutstraat (Kanonkop). Minute later is sy egter alleen saam met net een van die mans gesien. Kort daarna het sy verdwyn en het hulle besef sy het klaarblyklik weer iewers werk gekry.
•Sedert 2016 het www.mboserver.co.za talle berigte oor Ngwenya gedoen en het sy al tronkstraf uitgedien. Haar parooltydperk op ’n vorige saak maak binne die volgende paar dae klaar.
