News

Skoolgemeenskap in rou gedompel met dood van drie matrieks

Die Vallei is in rou gedompel nadat drie matriekseuns van Hoërskool Ben Viljoen Saterdag (4 Desember), hul lewens verloor het in ’n motorongeluk.

Talle skole het op sosiale media hul medelye met die families en Hoërskool Ben Viljoen gedeel.

In ’n Facebookplasing sê Hoërsool Ben Viljoen dat “’n Sielstilte” op die skool en die gemeenskap neergedaal het.

Die matriekleerlinge het verlede Woensdag hul laaste eksamenvraestel by Hoërskool Ben Viljoen geskryf. Die seuns het saam met hul ander matriekmaats uitgesien na die welverdiende matriekvakansie.

JG Greyling, Stiaan Grobler en Conrad Meiring (almal 18) was Saterdagoggend op pad na hul matriekvakansie in Hartenbos toe die ongeluk plaasgevind het. ’n Vierde insittende, wat tans anoniem is, het die ongeluk oorleef.

Die ongeluk het Saterdagoggend tussen 01:00 en 02:00 op die N2 in die rigting van George plaasgevind, sowat 1km van die Maalgate-brug.

’n Voorlopige polisieondersoek dui daarop dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het en dat al drie seuns uit die voertuig geslinger is. Hulle is op die toneel dood verklaar, terwyl die vierde insittende later in ’n hospitaal vir sy beserings behandel en ontslaan is.

Die dood van dié drie gewilde seuns, is ’n enorme verlies vir die gemeenskap.

Beide JG en Stiaan het op Hoërskool Ben Viljoen se Uitvoerende Raad gedien.

Stiaan was ook lid van die eerste rugbyspan in 2020 en 2021.

JG was deel van die Limpopo gholfspan wat aan interprovinsiale toernooie gaan deelneem het. Hy was ook deel van die Ben Viljoen A-gholfspan.

Medelye en verklarings wat deur die verskeie skole in die Vallei op sosiale media gedeel is:

Hoërskool Ben Viljoen:

“’n Sielstilte het op Hoërskool Ben Viljoen en die gemeenskap neergedaal. Ons het met groot hartseer verneem van die afsterwe van JG Greyling, Stiaan Grobler en Conrad Meiring in ’n motorongeluk. Dis ’n droewige dag met die verlies van hierdie jong manne. Leerders vir wie avontuur deel van hulle lewenswyse was. Met ’n glimlag het hulle die lewe aangepak. Elkeen met sy eie toekomsdrome en ideale. Altyd goed gemanierd en op hulle plek, staatmakers op verskeie terreine. Ons harte gaan uit na hulle gesinne. Woorde skiet te kort, maar hierdie leerders sal voortleef in ons almal se harte.”

Laerskool Marble Hall:

“Ons onderwysers, ouers en gemeenskap treur saam met die geliefdes, families, vriende en gemeenskap van Hoërskool Ben Viljoen met hierdie groot verlies! Mag ons Hemelse Vader elkeen vertroos en styf vashou. Ons gebede is met elkeen. ”

CVO Gromar en Klouter Klitsies Kleuterskool:

“Ons personeel, ouers en kinders het met skok en leedwyse verneem van die kinders van Hoërskool Ben Viljoen wat gedurende die naweek in ’n motorongeluk oorlede is. Ons bid dat God Drie Enig vertroosting sal gee aan die ouers, familie en vriende. Mag God julle toevou met sy liefde in die moeilike tyd wat voorlê. Sterkte ook aan Ben Viljoen se hoof, personeel, ouers en kinders. CVO Gromar dra julle op in ons gebede.”

Laerskool Julian Muller:

“Ons innige meegevoel. Ons gebede is met die betrokke familie, ouers, onderwysers en vriende gedurende hierdie hartseer tyd.”

De Goede Hoop het ook op sosiale media gedeel dat hul harte saam met Hoërskool Ben Viljoen, familie, vriende en die gemeenskap van Groblersdal stukkend is. Conrad se sussie, Carli, is daar op Universiteit en sou hy volgende jaar ook by De Goede Hoop aangesluit het as eerstejaar.

“Soos Carli hierdie jaar deel was van die De Goede Hoop familie, het ons saam met haar uitgesien dat haar boetie Conrad in 2022 by ons aansluit as ’n eerstejaar. Ons dra elkeen in gebed op in hierdie moeilike tyd, mag Jesus julle trane opvang en elkeen wat hierdeur geraak word vertroos. Dit is ons gebed dat die mooi herinneringe van Conrad, JG en Stiaan sal voortleef in julle harte.”

•Hoërskool Ben Viljoen hou môre ’n kranslegging vir die seuns by die skool op die vierkant vanaf 08:00 tot 10:00.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button