Rower wat kinders aanhou het goue tand
Dieselfde rowers het drie weke gelede ook twee tienerseuns In Kanonkop met ’n mes gedreig, hulle met hul skoenveters vasgemaak en hul selfone geroof. Mnr. Jacob (Tiny) Louw (voorsitter, Sektor 4 Radiogroep) sê dit is beslis dieselfde rowers wat elke keer op jong kinders toeslaan, aangesien die een rower ’n kenmerkende goue tand het. “Net …
Dieselfde rowers het drie weke gelede ook twee tienerseuns In Kanonkop met ’n mes gedreig, hulle met hul skoenveters vasgemaak en hul selfone geroof.
Mnr. Jacob (Tiny) Louw (voorsitter, Sektor 4 Radiogroep) sê dit is beslis dieselfde rowers wat elke keer op jong kinders toeslaan, aangesien die een rower ’n kenmerkende goue tand het.
“Net die feit dat hulle nou ’n panga gebruik het, is nuut.”
Mnr. Louw en ’n groep lede van die Sektor 4 Radiogroep het gistermiddag dadelik gereageer toe die noodroep deurkom dat ’n seun in Helen Josephstraat beroof is.
Die seun is by die bruggie by die dammetjies deur die twee rowers oorval.
“Die noodroep het gesê dit is drie rowers, maar dit was twee wat hom aangehou het. Een het hom met ’n panga gedreig en die ander een het ’n opvoumes gehad.”
Die area is gefynkam, maar hulle het weggekom.
•Mnr. Louw sê presies drie weke gelede is twee tienerseuns van 14 en 15 by die Konsentrasiekamp graffies in Kareestraat (Kanonkop) beroof.
Die rowers het vir die seuns gesê hulle moet lê en is hulle met skoenveters vasgebind.
Tydens beide rooftogte het die slagoffers opgemerk dat die een rower ’n goue tand het.
Gisteraand het die boosdoeners swart klere en kepsies gedra.
Mnr. Louw het inwoners gemaan om nie die rowers te konfronteer as hulle weer toeslaan nie, maar eerder die radiogroeplede of die polisie te bel.
Vir enige verdere navrae rakende die Sektor 4 Radiogroep se werksaamhede, bel mnr. Louw by 071 227 5491. •
