“Perdefluisteraar” in tydelike tentkamp saam kinders na vloedwater-hel
Machadodorp se “perdefluisteraar” Patrick John Rolfe David, sy vriendin en sy kinders, woon tans in tente in Pelgrimsrus nadat Samaritane vir hulle grond aangebied het, nadat die gesin se houthuis langs die Elandsrivier verlede week deur vloedwater meegesleur is.

Intussen het die rivier weer drie maal afgekom en verdere skade aan die houthuis veroorsaak.
Mnr. David, wat ’n lewe maak uit perdetelery en afrigting, se grond sal vir die volgende jaar nie bruikbaar weees nie. ’n Totaal van 33 perde is ook reeds saam hom Pelgrimsrus toe verskuif waar grond ook beskikbaar gestel is sodat die perdeboerdery nie ten gronde loop nie.
Die gesin bly tans in geleende tente in ’n ou karavaanpark nadat al hul eie kamptoerusting ook deur die vloedwater weg gespoel is.
Nog ’n Samaritaan het intussen draad en pale vir perdekampe geskenk en perdevoer is ook beskikbaar gestel, hoewel vervoer tans steeds ’n probleem is.
Die gesin het feitlik alles in die vloed verloor en benodig tans enige kamptoerusting. Daar is baie klere en linne, wat ook in die vloed weg gespoel is, aan die gesin geskenk. Maar hulle het geen yskas of andeer elektroniese ware nie.
Talle mense het ook klein geldelike bydraes gemaak. Raadslid Amanda Botha is ook tans besig om te poog om toegang tot die regering se rampbestuurfonds te kry, om mnr. David en sy perde-besigheid weer op die been te kry.
“Dis hul enigste inkomste,” het mnr. David se emosioneel oorweldigde eksvrou Anneli gesê.
“Ons hou nie ons asems op vir regeringshulp nie,” het sy bygelas, en mense wat reeds bydraes gemaak het, “uit die diepte van my hart” bedank.
Hul kinders is tans steeds by mnr. David in die tentkamp in Pelgrimsrus.
Daar is ook gewildige vloedskade aan informele nedersettings rondom Machadodorp aangerig, en persone wat bydraes van kos, klere, linne en ander benodighede wil maak, kan raadslid Didi Hepburn by 074 447 4011 skakel.
Diegene wat die David gesin wil ondersteun kan Anneli by 082 266 4364 skakel.
“Ons harte is op die grond en ons knieë deurgebid.”