Uil van gewisse dood gered
’n Pragtige nonnetjies-uil is gister in Middelburg gered en na die Birds of Prey Sentrum op Dullstroom geneem.
Lede van die Middelburg Herpetologiese Vereniging is Woensdag gekontak en gesê dat die uil in ’n besigheidserf in die industriële area naby die Middelburg Mall sit.
Fanie Strydom (uittredende ondervoorsitter, Herpetologiese Vereniging) sê hulle het hom kort daarna gekontak en gesê dat die uil beter lyk en bo-op ’n grondverskuiwingsmasjien gaan sit het.
Gisteroggend het hulle hom weer gebel en gesê dat die uil weer op die grond sit, maar baie siek lyk. Hy het die uil gaan haal en hom warm gemaak, terwyl hulle rondgebel het om hulp vir die uil te kry.
Hulle het besluit om hom na die Birds Of Prey Rehabilitasiesentrum op Dullstroom te neem. Mark Salzwedel (nuwe ondervoorsitter) het met die uil na Dullstroom gejaag.
“Alles het daarop gedui dat die uil gif ingekry het en het hulle dadelik met noodbehandeling begin. Teen gisteraand het die uil reeds beter begin lyk!”
•Dit is die tweede nonnetjies-uil wat die herpetologiese vereniging in die laaste week gaan red het.
Verlede week is ’n uil, wat ook nie kon vlieg nie, by ’n myn in die omgewig gaan haal.
Hulle het dadelik vir Chantelle Jansen van Rensburg gekontak. Chantelle sê sy het hul vrywilliger op Middelburg, Mandy de Villiers, gekontak wat die uil na Central Vet gevat het.
Na deeglike ondersoek deur ’n veearts is bepaal dat die uil se vlerk te sleg gebreek is, daar geen kans is op herstel of latere loslating nie en hy uitgesit moet word.
•Chantelle (wat in eMalahleni woon) is ’n geregistreerde vrywilliger by die SA Wildlife Rehabilitation Centre (SAWRC – gesetel in Springs), die Dulstroom Birds of Prey sentrum en die Owl Rehabilitation Centre in Hartebeespoortdam.
“Al dié sentrums, wat almal nie-winsgewende organisasies is, spits hulle daarop toe om enige diere en voëls, met die oog op latere loslating, te red.”

Sy het gemeld dat hulle verlede jaar ’n arend gered het wat vasgesit het in ’n plaasheining op Ermelo en dat hy na ’n jaar losgelaat kon word.
Verlede week het sy ’n swartpootkat op Secunda gaan haal.
“Die mense het gedink dit is ’n gewone kat wat net wees gelaat is. Ons het egter die mense se plasing op Facebook gesien en dadelik besef dat dit ’n skaars swartpoot wildekat, die kleinste spesie wildekat, is.”
Die kat is na dr. Nolan Landman, veearts in eMalahleni, gevat, wat besig is om te kyk of die katjie nie enige siektes het nie.
Daarna sal hy gevat word na me. Delicia Gun by die Loskop Natuurreservaat vir haar unieke swartpootkat projek by die reservaat.

•Chantelle het pas weer ’n gevlekte ooruil by die Seekoeiwaterplotte op eMalahleni gered.
•Vir enige navrae rakende die verskillende wildlewe sentrums, skakel die volgende persone: Judy 073 112 1131 (SAWRC), Brendan (Owl Rescue Centre) en Magdeli (Dullstroom Birds of Prey Centre) 072 517 7559.
•Vir navrae rakende die Middelburg Herpetologiese Vereniging, wat deel is van die LimPuma Herpetologiese Vereniging, bel Victor (voorsitter) of Karin Boshoff by 082 697 9954 of Mark by 082 898 5242.