Baanbreker Ligthelm broers sterf twee dae na mekaar aan pankreaskanker
Beide broers het aan Hoërskool Middelburg gematrikuleer en hul prestasies is vervat in die skool se Eeufeesbundel.
Twee Middelburg baanbrekers, broers Nico en Attie Ligthelm, is kort voor nuwejaar, twee dae uit mekaar, oorlede nadat beide ‘n stryd teen pankreaskanker gevoer het.
Nico het homself in die teologie bekwaam en onder meer in Secunda en Evander die Gereformeerde Kerk gelei het, voordat hy drie dekades lank die leraarspos by die Alkantrant Gereformeerde Kerk in Pretoria aanvaar het.
Attie was ‘n professor in tandheelkunde en dekaan van die tandheelkundige department van die Universiteit van Pretoria.
Prof. Attie is bykans nege jaar gelede met pankreaskanker gediagnoseer terwyl Ds. Nico in Augustus vanjaar ook daarmee gediagnoseer is.
Ds. Nico is op 28 Desember oorlede terwyl Prof. Attie twee dae later, die 30ste Desember, op sy 49ste huweliksherdenking oorlede is, met sy gesin aan sy sy.

Hulle het onderskeidelik in die Renaissance en Pretoria Oos versorginsoorde gewoon ten tye van hul afsterwe.
Beide broers het aan Hoërskool Middelburg gematrikuleer en hul prestasies is vervat in die skool se Eeufeesbundel. Ds. Nico was die oudste van die twee.
Prof. Attie was vanaf Graad 1 aan Laerskool Middelburg tot matriek, ‘n klasmaat van Springbok kaptein Wynand Claassen.
Die broers was volgens hul gesinne tot die einde baie geheg aan mekaar.
Daar is reeds verlede Vrydag van Ds. Nico in Pretoria afskeid geneem, terwyl Prof. Attie more (Dinsdag, 4 Januarie), ter ruste gelê sal word.
Ds. Nico word oorleef deur sy vrou Charlotte, en drie dogter Rene, Una en Charlotte, en drie kleinkinders.
Prof. Attie laat sy vrou Christa, drie kinders Nico, Carien en Louis, en agt kleinkinders agter.
