Legende sterf na wie ’n stoomtrein vernoem is
Sy het naweke wydsbeen oor die ou stoomtrein gesit wat nou voor die Dros Restaurant staan, besig om die swart reus af te skuur en hom oor te verf.
Haar naam was Julie van Rensburg, lopende ensiklopedie, lopende woordeboek, stoomtreinliefhebber, vertaler, skrywer, joernalis, fotograaf, vriend…
Daar was net een soos sy, ’n legende.
In die tagtigerjare doen sy vanaf die Bluff in Natal aansoek vir die pos as donkerkamer assistent by die Middelburg Observer.
Sy daag by die kantoor op met ’n bromponie en trek in Pleinstraat by ons gesin in.
Wanneer sy laatnag by die huis kom, het jy geweet sy het weer tyd tussen treine deurgebring, foto’s geneem en haar kennis van stoomtreine met die treindrywer en sy assistent gedeel.
’n Stoomlokomotief word selfs later na haar vernoem.
Haar fenominale swart-en-wit foto’s verstom lesers.
In die donkerkamer toor sy met die slegste negatief en wend allerlei truuks aan, soos om ’n vroue sykous oor die vergroter te gebruik, vir ’n beter afdruk.
Wanneer ’n negatief gekrap is vryf sy liggaamsvet daaroor en herstel dit perfek.
Die OH Frewin Museum vir die Druk- en Gemeenskappers se donkerkamer bestaan hoofsaaklik uit toerusting wat sy geskenk het.
Haar seun, Mark, het vanoggend aangekondig dat sy om 2:15 in die ouderdom van 87 jaar, stil by haar huis in Kempton Park oorlede is.
Hy het sy susters Karen van Rensburg en Kirsten Vagle vir hulle ondersteuning bedank.
