Ma wat baba by hospitaal los hardloop weg by die hof
Die dogtertjie is tans in ’n huis van veiligheid deur die kinderhof geplaas.
Die ma van ’n 11-maande oue baba dogtertjie het die week van die hof af weggehardloop, nadat sy die babatjie tussen Kersfees en Nuwejaar by die Middelburg Povinsiale Hospitaal gelos het.
Volgens ’n maatskaplike werker na aan die saak, is die vrou Maandag opgespoor en later hof toe begelei, waar sy naby die hofingang skielik weggehardloop het.
Die maatskaplike werker sê dat dwelms moontlik bygedra het daartoe dat sy die baba dogtertjie by die hospitaal gelos het.
Die ma het behandeling vir die baba meisie gaan soek, maar nie weer terug gekom nie.
Die dogtertjie is tans in ’n huis van veiligheid deur die kinderhof geplaas.
Die saak word deur Middelburg Kinderwelsyn hanteer.
Middelburg Kinderwelsyn het intussen ’n beroep op die gemeenskap gedoen vir doeke en klere vir die dogtertjie.
Klere vir kinders 12 tot 18 maande en nommer 4/5 doeke word benodig.
Ander benodigdhede sluit seep, room, sjampoe en ander bababenodigdhede in.
Geen ander inligting kan op die stadium rondom die saak bekend gemaak word nie.
Inwoners wat bydraes wil maak kan Middelburg Kinderwelsyn by 013 110 3742 of 072 333 7221 skakel.
