“Wonderwerk” dat vier lewend uit wrak klim, na bakkie slaggat tref
Die ma van ’n jong man wat gisteraand ’n ongeluk oorleef het, beskryf dit as ’n “wonderwerk” dat vier mense lewend uit die wrak geklim het.

Mauritz Botes was een van vier kollegas wat met ligte beserings uit die wrak ontsnap het, nadat hulle voertuig op die N11 (Hendrinapad) gerol het.
Me. Andrie Botes, Mauritz se ma, vertel dat haar seun gistermiddag na werk van Breyten af terug Middelburg toe gery het, toe hy moes uitswaai vir die reuse slaggate op die N11.
Die bakkie het steeds ’n slaggaat getref, en het toe gerol met al vier insittendes binne.
“As mens na die bakkie se toestand kyk, is dit net ’n wonder dat al vier insittendes dit oorleef het,” het Andrie in skok gesê.
Haar seun is na die ongeluk na Life Midmed Hospitaal toe gejaag, maar is later die nag ontslaan met ’n sny aan sy hand en lyfseer.
Hy en sy kollegas is almal gelukkig net lig beseer.
Me. Botes het bygevoeg dat daar aandag gegee moet word aan die N11, wat ’n doodsakker geword het van al die slaggate.
