Oud Middelburger deur vragskip gered na hy ure in Persiese Golf ronddobber
’n Middelburgboorling kan getuig van ’n wonderwerk nadat hy en ’n vriend vir ses ure in ’n storm in die Persiese see moes watertrap terwyl hulle aan die laaste gedeelte van hul kajak, wat besig was om te sink, vasklou.
Gidion Janse van Rensburg is die seun van plaaslike dokter Redge Janse van Rensburg. Hy en sy vrou Lezaan, was beide aan Hoërskool Middelburg verbonde voordat hulle na Abu Dhabi verhuis het waar hulle tans skoolgee.
Janse van Rensburg en ’n vriend, Piet Uys, het oudergewoonte gaan visvang saam met twee ander vriende, twee-twee op ’n tweeman kajak toe daar skielik ’n ongekende storm opgesteek het.
Die paar op die ander kajak kon dit regkry om land toe te roei, maar Gidion en Piet is kilometers ver in die see in gesleep.
Wat dinge vererger het, is dat hul kajak begin water inneem en gesink het. Nie een van hulle het ’n reddingsbaadjie aangehad nie.
Hulle kon met ’n selfoon hul koördinate stuur voordat die kajak so ver gesink en net die punt uitsteek en die selfoon vir hulle verlore was. Die twee mans het vir ure in die see water getrap terwyl hulle aan die sinkende bootjie vasgeklou het.
Die byna onmoontlike het gebeur toe ’n vragskip daarin kon slaag om hulle in die storm op te spoor en te red.
Die skeepskaptein het ’n noodroep oor die mans se verdwyning van die land af ontvang en toe besluit het om die area te patrolleer om na hulle te soek. Hy is na die plek waar hulle die laaste keer koördinate kon stuur.
Gideon en Piet was as gevolg van die storm egter kilometers ver weg van die punt af en dit kan net as ’n wonderwerk beskryf word dat die skeepskaptein, ’n Indonesiese man, die spreekwoordelike naald in ’n hooimied kon opspoor.
Dr. Van Rensburg sê dat hy heeltemal onbewus was van die lewensgevaar waarin sy seun verkeer het. Hy het by Middok 24/7, Life Midmed se Ongevalle eenheid gewerk, gaan slaap en eers toe hy wakker word al die boodskappe op sy foon gesien.
Hy sê dat dit ’n absolute wonderwerk is dat sy seun gevind is.
“Die see was so rof dat die kuswag nie kon uitgaan om na hulle te soek nie. Die vragskip was reeds op die see en in die storm. Hulle was ongelooflik gelukkig.”