‘Jessie is dood! Hoe kry ek sy lyk hier?’
Jessie Bhyat (22) is na ’n erge lyding van drie maande met ’n ernstige longsiekte in die Rob Ferreira Hospitaal in Nelspruit oorlede.
“My kind is dood. Hy het só gely. Ek weet nie wat om eerste te doen nie! Hoe kry ek sy lyk hier? Ons het nie ’n sent geld nie. Wat moet ek doen, wat moet ek doen?” sê Maria van der Westhuizen oor en oor.
Jessie het gisteraand kort voor 19:00 gesterf.
Dié boorling van Middelburg is vroeg verlede jaar na Parys om “van Middelburg se dwelmhandelaars af weg te kom.”
Sy ma het hom laat verlede jaar in Parys gaan haal waar hy dodelik siek op ’n sypaadjie gelê het. “Mense het hom geskop en op hom gespoeg.”
Me. Van der Westhuizen het destyds gesê dat Jessie vir nege maande skoon was van dwelms in Parys, maar teruggeval het toe hy sy werk verloor het.
Sy het hom ’n maand tuis probeer versorg, maar hy het só siek geword dat sy hom Middelburg Hospitaal toe gevat het. Hulle het hom egter kort na behandeling ontslaan en het sy hom na die Sabie Hospitaal gevat.
Hy was ’n paar dae in dié hospitaal, waarna hy oorgeplaas is na die Rob Ferreira Hospitaal.
Sedert sy opname het hy ’n pyp in sy longe gehad en suurstof gekry as gevolg van erge longontsteking.
“Ek glo hy het septisemia gehad, want toe ek by hom was Woensdag het hy gesê hy stink vir homself. Daar was ook bloed aan sy tande.”
Me. Van der Westhuizen sê hy was in geweldige pyn.
“Die pyp in sy long het ’n paar dae gelede uitgeval en het hy twee dae so gelê voor hulle die pyp teruggesit het. Hy het die hele tyd gekla dit voel of die pyp te diep in die long is.”
Gisteroggend was sy al bekommerd toe sy hom bel en sy foon is af. Sy het die hospitaal gebel, wat haar meegedeel het dat hy op die bed sit en seker nie sy foon gelaai het nie.
Sowat ’n halfuur later het sy weer gebel. Dié keer het die suster vir haar gesê dat hulle hom onder verdowing geplaas het.
“Hulle het gisteraand die vrou van die CMR, by wie ek tuisgegaan het in Nelspruit vir ’n paar dae, laat weet dat my kind dood is.”
Me. Van der Westhuizen het haar seun beskryf as ’n liefdevolle, borrelende jong man wat alles vir sy familie en vriende sou doen.
“Hy was altyd vrygewig en sou sy laaste sent vir jou gee.”
•Persone wat die gesin wil ondersteun, kan me. Van der Westhuizen bel by 060 712 6381.
