News

Man wat beweer dat hy gesien het hoe vrou vermoor en verbrand word, verdwyn

Xavier van der Merwe (37) het in September verlede jaar vir familie gesê dat hy gesien het hoe ’n meisie verkrag en verbrand word en vir Nigeriërs én die polisie vlug en nou is hy al ’n maand weg.

“Ek weet nie of hy die waarheid gepraat het daaroor nie, maar ek is steeds baie bekommerd oor hom,” sê sy pa, wat uit die aard van sy werk anoniem wil bly.

Hy sê hy het vroeg in Desember laas met hom gepraat.

“Ek het ’n interdik teen my kind weens moeilikheid wat hy al by my huis gemaak het weens sy dwelmverslawing, maar dit bly my kind en ons het gereeld met mekaar gepraat. Ek is baie bekommerd oor hom, veral na wat verlede jaar gebeur het.”

Hy onthou hoe hy een middag in Setember 2021 vir Xavier op ’n straathoek in eMalahleni gekry het. “Hy was duidelik op iets.”

Dieselfde nag het Xavier hom paniekering omstreeks 02:00 gebel.

“Hy het oor dakke by besighede in eMalahleni gehardloop en gesê Nigeriërs en polisie wat betrokke is daarby, is agter hom aan. Xavier het gesê dat hy ooggetuie was dat ’n meisie verkrag en aan die brand gesteek is en dat hulle hom ook wil doodmaak.”

Hy sê Xavier het daarna deursigtige velselglas op ’n dak stukkend geslaan en regdeur die eerste vloer tot op die grond geval.

“Toe die bestuurder van die besigheid die deur oopsluit, het ’n bebloede Xavier voor hom gestaan. Ons kon nie glo hy het die val oorleef nie. Hy het vir die bestuurder gesê: ‘kyk ek het niks gesteel nie, ek wou net wegkom van die mense wat my probeer doodmaak het!”

Dieselfde nag is hulle Middelburg toe met die plan dat hy sou gaan vir rehabilitasie. Xavier het hom egter die volgende oggend gevra dat hy hom na sy ma in die Kaap toe stuur, omdat hy bang is vir sy agtervolgers.
“Ek het dadelik vir hom ’n buskaartjie gekoop en hy is soontoe.”

’n Rukkie later het Xavier hom laat weet hy is terug in Middelburg.

“Die eerste week in Desember het hy my weer gebel.”
Sy kind het weer vreesbevange geklink en vir sy pa gesê “dat hulle weer agter my aan is!” Dit was die laaste keer wat hy met hom gepraat het.

Xavier se pa sê sy kind het al op skool “gom begin suig” en was later ’n volslae heroïenverslaafde.

“Ek het hom al ses keer vir rehabilitasie gestuur, waaronder drie keer by Hope Corner en een keer by Oorwinnnaars. Elke keer het hy net weer begin gebruik.”

As ouer wil hy nie sy kind afskryf nie en het hy geskrik toe hy die berig lees van ’n jong man se lyk wat op ’n stoep by die Cresta Sentrum in Walter Sisulustraat gekry is.

“Dit bly my seun!”

•Xavier is ’n bekende dwelmverslaafde in Middelburg se strate.

•Mr. Stefan Nortjé van die ‘Serving Disciples’ groep, sê hulle het Xavier die laaste Dinsdag in November 2021 laas gesien. Dié groep vergader Dinsdagaande by die Kruisgenerasie (VEK) gemeente en bring die Woord en gee iets te ete vir dwelmverslaafdes en haweloses.

Enige persoon wat moontlik weet waar Xavier hom bevind, kan ‘n Whatsapp stuur na 072 248 3855.

•Daar is navraag gedoen by kapt. Eddie Hall, van die Witbank Polisie, of daar enige moord in die laaste paar maande was waar ’n vrou verbrand is. Volgens sy kennis is daar nie enige sulke gevalle in die laaste ses maande nie.

•Sowat twee jaar gelede, op 30 Julie 2019 is daar ’n erg verbrande lyk van ’n vrou tussen bosse langs ’n dam in die eMalahleni omgewing gekry.
Al hoe hulle kon sien dat dit ’n vrou is, was deur ’n stukkie van ’n bra-draad en ’n baadjie.

•Dieselfde jaar, op 23 September 2019, is ’n vrou tussen bosse by Kromdraai gevind. Haar hande was agter haar rug vasgemaak met draad en sy het gesig na onder tussen die bosse gelê. Haar liggaam was ook onherkenbaar verbrand.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button