News

’n Briefie vir sy pa se graf

’n Sewejarige seuntjie het ’n blou briefie met ’n selfgetekende prentjie van ’n gelukkige gesin Donderdag met trane wat oor sy wange rol, op sy pa se kis gegooi.

Daarna het klein Tyler Burke ’n graaf gegryp en saam probeer om die graf toe te gooi.

Tyler is die seun van Raul Burke wat op 30 Desember in die Witbank Hospitaal gesterf het, nadat sy maagseer gebars het.

Na sy dood het sy familie gevra vir finansiële hulp om hom te begrawe, aangesien daar nie fondse was vir ’n begrafnis nie.

Donderdag is daar ’n aangrypende diens by die kapel in die Middelburg Begraafplaas gehou.

Tyler word ondersteun voor die kis laat sak word. Kort daarna het hy ’n briefie op sy pa se kis gegooi.

“Ons kan nie ophou dankie sê nie,” het mnr. Burke se ma, Serah Ann en suster, Elizabeth Dannhauser, na die diens gesê.

Me. Burke het vanaf Natal gekom om haar seun vir ’n maand te kom versorg by Koppiestraat toe hy baie siek geword het.

Met sy afsterwe in die Witbank Hospitaal het ‘engele’ hulle om die gesin geskaar.

Past. Christa Olivier (van Barefoot with the Master, eMalahleni) het hulle tydens sy siekbed bygestaan en ook die diens hanteer.

Lees ook: Komplikasies na dwelmverslawing eis lewe van jong man

“Die Bikers Church van Secunda het ook hulp en finansiële steun aangebied en daar is vir ons heerlike eetgoed gereël vir na die tyd by Koppiestraat.”

Ma en dogter het dankie gesê vir die drie ander persone wat elkeen ’n kontantbydrae gelewer het. Hulle bedank ook Roseleigh Begrafnisdienste vir hul besondere diens.

Mnr. Raul Burke is op 30 Desember oorlede.

•Mnr. Burke was verlede jaar vir ses maande in rehabilitasie vir dwelms en het in September uitgekom. Hy het weer teruggeval op heroïne maar só siek geword op Evander dat sy familie hom daar gaan haal en sy ma hom 24uur per dag, tot met sy afsterwe, versorg het.

“Hy was só lief vir sy twee kinders en het ’n besondere band met hulle gehad. Raul was ’n uitstekende auto elektrisiën en het altyd ’n plan gemaak om by hulle uit te kom. Raul het voor sy dood gevra dat ons familie altyd deel van sy kinders se lewens moet wees en dat hy in Middelburg begrawe wil word,” het me. Dannhauser gesê.

Mnr. Burke word oorleef deur sy vrou, Philadelphia, kinders Tyler en Anebele (3), ma Serah Ann, drie broers en twee susters.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button