Seuns beweer hasie was klaar dood
’n Persoon wat versoek het om anoniem te bly, maar wat kontak met die seuns het wat op video vasgevang is waar hulle ’n hasie skop en met sy karkas speel, beweer die diertjie was reeds dood toe hulle hom gekry het.
Die vrou sê dat die seuns daar verby gestap het en die hasie met hul voete “rond gestoot het om te kyk wat dit is”.
Een van die seuns het toe glo die hasie opgetel en gesien “sy oog hang uit waarna hy geskrik en die diertjie gegooi het.”
“Hulle het vir die mense gevra om na hul kameras te kyk om te sien wat het met die haas gebeur voor hulle daar aangekom het maar die mense het geweier,” beweer sy.
Die vrou gee toe dat dit eienaardig is dat een van die seuns ’n selfie saam met die haaskarkas geneem het.
Sy sê dat alhoewel die kinders nie op die video identifiseerbaar is nie, hul name tog deur betrokkenes uitgelek is en hulle nou vrees dat hulle geviktimiseer gaan word.
Nog ’n ouer van een van die seuns het gebel en gesê dat die groep seuns nooit ’n dier sal skade aandoen nie en eerder beseerde diertjies help.
“My kinders is vreeslik lief vir diere. Hulle het al beseerde voëltjies opgetel en versorg. As die hasie lewendig was en hulle het hom gevang, sou hulle hom eerder gepaai het as om hom seer te maak.”
Die pa sê dat sy kinders vir hom vertel het die hasie was reeds dood. Hy beweer ook iemand het aan hom gesê dat hulle gesien het hoe ’n kar die hasie raak ry.
“Ons kinders is diereliefhebbers,” het hy gesê.
