Seuns wat hasie ‘doodskop’, neem vol bravade selfies by dooie diertjie
’n Groep jong seuns het ’n hasie in ’n straat doodgeskop en daarna selfies geneem saam met hulle “trofee”.
Sekuriteitskameras by ’n huis in Dennesig het die voorval op beeldmateriaal vasgevang. ’n Ontstelde Marina Willer het gesê dat hulle gaan ondersoek instel het toe hul hond aanhou blaf het. Die seuns het toe al geloop. Me. Willer het die bebloede hasie die volgende oggend in ’n blombak gekry. Die voorval het Vrydagaand in Kanonlaan plaasgevind. “As hulle ’n onskuldige ou diertjie so brutaal kan doodmaak, waartoe anders is hulle nie in staat nie?” het ’n ontstelde me. Willer gevra. Op die videomateriaal kan gesien word hoe een seun die hasie skop, voordat vier ander by hom aansluit. Nadat hulle seker maak dat die hasie dood is, swaai ’n ander seun die dooie diertjie se karkas ’n paar maal in die rondte en gooi dit in ’n blombedding. Van die seuns in die groep krul van die lag terwyl dit gedoen word.
Een van die seuns kom later terug, haal die dooie hasie tussen die plante uit, rangskik dit mooi en neem dan ’n foto en ’n selfie saam met die diertjie, voordat die groep seuns weer in die rigting stap van waar hulle vandaan kom. Die tydstempel op die video wys dat dit 20:15 geneem is. “Daar is twee hasies wat nou al seker so maand in die straat gesien word. Hulle is so mak dat die een nou die dag tot teen die heining na my kleinkind gehardloop het,” sê mnr. P.W. Willer. Senior inspekteur Petro Oberholzer van die Dierebeskermingsvereniging sê dat die hasie se karkas vir ’n nadoodse ondersoek gestuur is en dat hulle besig is om ’n saak van dieremishandeling te ondersoek. https://youtu.be/A_t_SHSkI5s
