Wat het van Bianca geword?
Lê Bianca Pretorius iewers in ’n vlak graf as slagoffer van ’n dwelmtransaksies wat skeef geloop het, of is sy as seksslaaf verkoop in mensehandel.
Dit is die dinge wat haar familie wakker hou in die nag, nadat sy spoorloos verdwyn het in 2019.
Alhoewel sy ’n dwelmverslaafde was, het sy nog altyd vir geld gaan bedel by haar familie en kontak behou met die maatskaplike werker om haar kind te sien.
Maar sedert die dag, op 8 Julie 2019, toe sy saam met ’n ouer man in silwerkleurige Ford Ranger bakkie geklim het voor ’n besigheid, het niemand haar ooit weer gesien of iets van haar gehoor nie.
“Ons verwag al jare altyd die ergste weens haar dwelmgebruik,” het haar stiefpa, mnr. Walter Graham, na haar verdwyning gesê.
Hierdie week het hy die koerant weer genader en gesê: “Ons sal aanhou soek tot ons antwoorde kry.”
Mnr. Graham wonder of sy nie dalk as deel van mensehandel verkoop is nie.
•Bianca het in Januarie 2018 aan past. Jannie Jacobs (Oorwinnaarshuis) erken dat sy ’n dwelmverslaafde is en dat sy enige dwelms wat beskikbaar is sal gebruik, waaronder heroïne en Tik.

Sy het kort daarna verdwyn.
Later is sy in die dorp se strate in die nag gesien waar sy ronddwaal en is ook gesien by die Corona Woonstelle waar sy dwelms gebruik het.
Nog ’n paar weke later (in Februarie 2018) is sy deur mense in Bonckerstraat in die veld opgemerk waar sy rukkerige bewegings gemaak het, haar hare uit haar kop probeer trek het en gedans het. Sy was baie deurmekaar en daar was sere op haar lyf.
Talle mense het gesê dit het gelyk of sy die ‘Zombie’-dwelm, Flakka, in het, weens die feit dat dit gelyk het of sy heeltemal van haar sinne beroof is.
•Bianca het tot kort voor haar verdwyning tussen die murasies van die vervalle huis in Framestraat gebly.
•Sy het talle tatoeërmerke, waaronder die naam, Zantalee, op haar rug, ’n kaal vrou op haar skouer en sterre op haar linkerheup. Enige persoon wat inligting het oor waar Bianca haar kan bevind, kan mnr. Graham bel by 072 449 0297.